AfriForum skenk 625 kg teer aan Drive Dullstroom’s Destiny vir slaggate
Die AfriForum-tak in Dullstroom het op 24 Oktober 625 kg teer en 50 liter ss60 bitumen ter waarde van R4 000 aan die gemeenskapsorganisasie Drive Dullstroom’s Destiny (DDD) oorhandig om slaggate in die dorp te herstel. Hierdie bydrae vorm deel van AfriForum se volgehoue samewerking met gemeenskapsinisiatiewe om die infrastruktuur te verbeter en veiligheid op die paaie in Dullstroom te verseker.
AfriForum het ook ’n opleidingsessie vir DDD se werkers aangebied, wat hulle toerus met die nodige kennis en vaardighede om slaggate doeltreffend en professioneel te herstel. Hierdie opleiding is daarop gemik om te verseker dat die herstelwerk van hoë gehalte is en sodoende langtermyn oplossings vir die dorp se paaie bied.
“Ons glo dat samewerking tussen organisasies en die gemeenskap die enigste manier is om ’n blywende verskil te maak,” sê Arlo van Heerden, distrikskoördineerder vir AfriForum in die Laeveld. “Hierdie projek is ’n voorbeeld van hoe gemeenskappe hul uitdagings suksesvol kan hokslaan deur hande te vat en oplossings te implementeer wat tot almal se voordeel is.”
AfriForum moedig die inwoners van Dullstroom aan om betrokke te raak en ’n aktiewe rol te speel in die verbetering van die gemeenskap. Deur middel van hierdie tipe vennootskappe wil AfriForum ’n daadwerklike verskil maak en die aansien van die dorp verbeter.
Vir meer inligting oor hierdie inisiatief of om by die projek betrokke te raak, kontak Van Heerden by 066 486 7609 of besoek AfriForum se webwerf by www.afriforum.co.za.