|

AfriForum sit hand by met SAPD se Operasie Vala Umgodi

AfriForum se Standerton-buurtwag het op 4 en 5 Oktober aan Operasie Vala Umgodi, ’n inisiatief van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), deelgeneem waartydens een arrestasie gemaak en verskeie boetes uitgereik is. Daar is veral op die veiligheid in Morgenzon, Davel, Bethal en Emzinoni gefokus.

Die doel van die operasie is om misdaad deur hoë sigbaarheidsoperasies in dorpe te onderdruk. Die SAPD het van die geleentheid gebruik gemaak om verskeie drinkplekke te deursoek vir onwettige drank en ander middele en ook gekyk of daar ongedokumenteerde buitelanders is. Een persoon is vir die besit van verbode middels in hegtenis geneem en verskeie boetes is aan ondernemings uitgereik wat onwettig met alkohol handeldryf.

Die operasie is saam met verskeie ander rolspelers uitgevoer soos die Bethal-gemeenskapspolisiëringsforum en Kasselman Security Services. Beide aande was daar minstens 40 betrokkenes aan diens.

“Hierdie operasies help om ons gemeenskappe veiliger te maak. Dit wys dat ons as ’n gemeenskap kan saamstaan en dat misdaad ons nie sal afskrik nie,” sê Shandré van den Heever, leier van AfriForum se Standerton-buurtwag.

Soortgelyke plasings