|

AfriForum se Witbank-tak help met borde, straatligte en bome in Emalahleni

AfriForum se Witbank-tak in Emalahleni het in Oktober ’n nuwe inligtingsbord aan die Blancheville-buurtwag geskenk, wat by die ingang van dié buurt opgerig is. Die buurtwag se nommer is duidelik sigbaar op die bord vir inwoners en dien ook as ’n waarskuwing vir potensiële moeilikheidmakers.

Die AfriForum-tak het ook die Blancheville-buurtwag gehelp om straatligte in die buurt te herstel. Die buurtwag het ’n versoek vir tien kabellaste gerig om bestaande ligte te herstel, asook agt sonkragligte aangevra. Die benodighede is aangekoop en die buurtwag het alreeds van die ligte herstel en nuwe ligte in die buurt aangebring.

Die Witbank-tak het verder ook deelgeneem aan die organisasie se jaarlikse boomplantprojek. Tydens hierdie projek het die tak 77 inheemse bome en vrugtebome aan skole en instansies in Emalahleni geskenk, waaronder Laerskool Panorama, WH De Klerkskool, New Life Church, Hoërskool Patriot en die Hoëveld Vereeniging vir Gestremdes.

“AfriForum se Witbank-tak is daartoe verbind om Witbank ’n beter en veiliger plek vir almal te maak, daarom vat ons hande met die plaaslike buurtwagte. Ons doelwitte is belyn en ons sal saam ’n groter verskil kan maak,” sê Alfred Friess, voorsitter van AfriForum se Witbank-tak.

Soortgelyke plasings