| |

AfriForum se Westonaria-tak herstel lekkende waterpyp

AfriForum se Westonaria-tak het op 31 Mei 2020 ’n waterpyp op eie onkoste herstel omdat die Westonaria-munisipaliteit nie geld het om die materiaal aan te koop nie en ook ’n tekort aan ambagsmanne het om die werk te verrig.

Die pyp op die hoek van Botha- en Wesstraat het al vir maande gelek en die waterdruk beïnvloed. Die munisipaliteit se onvermoë om die pyp te herstel, het veroorsaak dat duisende liter skoon water verlore gaan. Danksy die herstelwerk wat die Westonaria-tak gedoen het, is die waterdruk weer normaal.

“Die Westonaria-tak het ingestem om die herstelwerk op die tak se onkoste te doen aangesien hierdie pyp die onderste deel van Westonaria, die dorp self en Venterspos van water voorsien. Buks Prinsloo, die tak se tesourier, het die ysterplaat voorsien, waarna ’n ketelmaker van die dorp aangestel is om die herstelwerk te behartig,” sê Esther Swart, voorsitter van AfriForum Westonaria-tak.

“Selfbestuur word al hoe meer ’n werklikheid. Staatsentiteite is heeltemal vervalle en gemeenskappe sal nou meer as ooit moet saamwerk om ’n toekoms in hierdie pragtige land te verseker,” sê Dewet Ungerer, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Wes-Rand.

Raak by jou plaaslike AfriForum-tak betrokke en word deel van die verskil: SMS “Westonaria” na 45342 (R1).