AfriForum se Waverley-jeugtak doen verdere instandhouding by kragsubstasie
Die AfriForum-tak in Waverley se jeugportefeulje het die afgelope Saterdag ’n gedeelte van die palissades by die kragsubstasie in Lawsonlaan afgeskuur en die geroeste gedeeltes met rooi-oksied behandel.
Dit was fase een van die opknapping van die palissades en die verdere afskuur en behandeling gaan eers voltooi word voordat die heining geverf word.
“Dit is lekker om terug te gee aan die gemeenskap wat al soveel vir ons as die jeug gedoen het,” sê Wietse van der Westhuizen, die AfriForum-tak in Waverley se jeugvoorsitter.
“Dit is belangrik dat gemeenskappe besef dat vooruitgang in hul eie hande is en nie in dié van die staat nie. Waverley is ’n voorbeeld van ’n gemeenskap wat verantwoordelikheid neem en sélf vooruitgang nastreef,” sê Tiaan Oosthuizen, AfriForum se distrikskoördineerder vir Gauteng-Noord.
Raak vandag nog by jou plaaslike AfriForum-tak betrokke: SMS “Waverley” na 45341 (R1).