|

AfriForum se Vanderbijlpark-tak plaas Emfuleni-munisipaliteit op terme oor kragonderbrekings

Die AfriForum-tak in Vanderbijlpark het op 17 Januarie 2022 ’n brief aan die munisipale bestuurder van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit gestuur om die munisipaliteit op terme te plaas. Die tak het die munisipaliteit ook in die brief versoek om ’n aksieplan op te stel oor die gereelde kragonderbrekings wat inwoners ervaar.

Inwoners van Vanderbijlpark ervaar die afgelope drie weke gereeld kragonderbrekings wat toegeskryf kan word aan swak in standhouding en hierdie onderbrekings lei tot grootskaalse verliese.

’n Gemeenskapsvergadering is ook op 13 Januarie met inwoners van Wyk 10, die burgemeester en die munisipale raad gehou om die munisipale probleme wat ervaar word, asook oplossings te bespreek. Buiten die gereelde kragonderbrekings, is die strate vol slaggate, waterlekke word nie herstel nie en riool vloei ook in die strate.

“Die gemeenskap het nou genoeg gehad en wil graag oplossings vir munisipale probleme hê. Die munisipaliteit versuim hul plig deur nie gereeld instandhouding te doen nie en deur nie dienste aan inwoners te lewer nie. Die eens mooi Vanderbijlpark is besig om by die dag meer vervalle te word,” sê Stephanus (Butch) Blignault, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Wes-Rand.

Klik hier om aan AfriForum meer inligting te verskaf oor die kragonderbrekings in Vanderbijlpark.

Soortgelyke plasings