| |

AfriForum se Upington-tak ontvang terugvoer van munisipaliteit ná oorhandiging van memorandum

AfriForum se Upington-tak het terugvoer oor verskeie kwessies ontvang nadat dié organisasie op 12 September 2019 tydens ’n optog ’n memorandum aan die Dawid Kruiper Plaaslike Munisipaliteit oorhandig het.

Die eerste punt wat aangeroer is, is die behoud van Sakkie se Arkie deur aan Sakkie Spangenberg die keuse te gee om óf die Arkie te bedryf van waar dit nou is, óf om Rosepark aan hom beskikbaar te stel. Die munisipaliteit voer aan dat hulle slegs Spangenberg se aansoek sal oorweeg indien hy die appèlsaak oor erf 15747 – waarin hy met die munisipaliteit gewikkel is – terugtrek, of totdat die saak afgehandel is. Die munisipaliteit sê ook dat hulle nie noodwendig die aansoek outomaties sal goedkeur nie.

“Dit is vir ons kommerwekkend dat die munisipaliteit reguit sê dat hulle nie noodwendig die aansoek tot alternatiewe grond vir die bedryf van Sakkie se Arkie beskikbaar sal stel nie. Dit beteken dat, sou Spangenberg die appèlsaak terugtrek, hy die huidige grond kan verloor, asook die moontlikheid van ’n alternatiewe stuk grond. Indien die Arkie sluit, sal dit ’n verlies in ekonomie en toerisme vir die dorp tot gevolg hê. Dit is ook ons laaste veilige toegang tot die rivier. Die munisipaliteit weier duidelik om dit in te sien,” sê Werner Strauss, voorsitter van AfriForum se Upington-tak.

Die tak is verder bekommerd oor die gehalte van die rivierwater nadat ’n stukkende pyp veroorsaak het dat rou riool in die rivier gestort word. Die munisipaliteit het geantwoord dat dit ’n inisiatief geloods het wat die vermoë van die hoofrioolpyplyn (Engels: bulk sewer pipeline) na die waterwerke sal verhoog. Die konstruksietydperk sal nege maande duur, waarna die werk self ongeveer 36 maande sal duur. Konstruksie aan die pyplyn het egter reeds begin. Die munisipaliteit het ook aan die tak bevestig dat miljoene rande vir die opgradering van die rioolwerke beskikbaar gestel is.

“Ons hou vol dat die besoedeling van rivierwater ’n beduidende ekonomiese invloed op die uitvoer van ons druiwe kan hê en grootskaalse werkloosheid kan veroorsaak. Daarom sal ons die munisipaliteit verantwoordelik hou indien dit sou gebeur,” voeg Strauss by.

Die tak het ook navrae aan die munisipaliteit gerig oor die hoë elektrisiteitstariewe, waarop die munisipaliteit die volgende redes verskaf het: 1) die afstand vanaf Johannesburg; 2) beperkte diensverskaffers in die omgewing; 3) die samesmelting van die Mier- en //Khara hais-munisipaliteite (wat die Dawid Kuiper Plaaslike Munisipaliteit tot stand gebring het) wat ook ’n rol speel; en 4) informele nedersettings in die area wat ’n al groter behoefte vir elektrisiteit ontwikkel.

“Oplossings vir dié hoë kragtariewe, byvoorbeeld sonkrag en die aankoop van ’n substasie, is aan die munisipaliteit voorgelê, maar dit is alles langtermynoplossings wat ons net kan hoop ’n werklikheid sal word,” meen Strauss.

AfriForum se Upington-tak is daartoe verbind om probleme op te los wat nadelig vir die dorp se ekonomie en vooruitgang kan wees.

Raak vandag nog by jou plaaslike AfriForum-tak betrokke: SMS “Upington” na 32532 (R1) of kontak vir Werner Strauss by 076 434 9379.