AfriForum se teenboelieveldtogspan besoek Ruimsig Academy.

Die burgerregteorganisasie AfriForum se teenboelieveldtogspan het op 20 Januarie by Ruimsig Academy in Roodepoort besoek afgelê om hul 298 leerders toe te spreek oor boeliegedrag en afknouery. 

“Boelie-bewusmaking gee leerders die geleentheid om te leer hoe om boeliesituasies te identifiseer en daarteen op te tree. Dit versterk selfvertroue, bevorder gesonde verhoudings, en skep ’n kultuur van aanvaarding en inklusiwiteit. As almal bewus is van die gevolge van boeliegedrag, kan skole proaktief optree om ’n positiewe en vreedsame leeromgewing te handhaaf,” sê Cindy Brand, graad 7-onderwyser by Ruimsig Academy.

“Dit is vir AfriForum belangrik dat leerders die teenboeliepraatjie bywoon wat begrond is in die volle wapenrusting van God, omdat hulle dit kan gebruik om boeliegedrag hok te slaan. Veilige skole sorg ook vir ’n veilige gemeenskap, nie net nou nie, maar ook in die toekoms. Na afloop van die praatjie weet elke leerder hoe om boeliegedrag te identifiseer en hoe om dit stop te sit. Dit is van kardinale belang om leerders op ’n jong ouderdom met die vaardighede toe te rus om gevare in die toekoms te voorkom,” sê Tania Scheepers, AfriForum se projekassistent vir Onderwys.

Dink jy jou kind word geboelie? Kyk uit vir die volgende tekens:

  • Onwilligheid om skool toe te gaan.
  • Veranderinge in slaappatrone, soos nagmerries of slapeloosheid.
  • Buierigheid of teruggetrokkenheid.
  • Verlies aan vriende of isolasie.
  • Dalende akademiese prestasie.

Vir meer inligting, laai ons gratis gids hier af.

“AfriForum bemagtig skole landwyd met dié veldtog vir die afgelope sewe jaar deur hoop te skep en om kinders aan te moedig om mekaar met die nodige wedersydse erkenning en respek te hanteer. Hierdie veldtog maak ’n positiewe bydra tot die veiligheid van gemeenskappe deur die boompies te buig terwyl hulle nog jonk is – die jeug is immers ons toekoms,” sluit Scheepers af. 

Vir meer inligting oor AfriForum se teenboelieveldtog, besoek gerus www.teenboelie.co.za 

Soortgelyke plasings