| |

AfriForum se teenboelieveldtogspan besoek Parkdene Primêr

Die burgerregteorganisasie AfriForum se teenboelieveldtogspan het op 26 April by Parkdene Primêr in George besoek afgelê. Dié veldtog dien as bewusmaking van afknouery in skole en sluit inligtingsessies met leerders in.

“Dit is vir AfriForum belangrik om saam met leerders, onderwysers en ouers te werk om ’n verskil te maak en afknouery in skole hok te slaan. Veilige skole sorg ook vir ’n veilige gemeenskap, nie net nou nie, maar ook in die toekoms. Elke leerder wat die teenboeliepraatjie bywoon, word toegerus met die nodige kennis en vaardighede om as leier in situasies op te tree waar afknouery plaasvind, met ander woorde om boeliebestand te wees. Kinders word ook geleer om te kan onderskei tussen afknouery en konflik,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se bestuurder vir jeugleierskap.

“Parkdene Primêr het ’n teenboelieveldtog op ons jaarbeplanning geskeduleer vir Augustus, maar noudat al ons 1 700 leerders voltyds teruggekeer het skool toe was ons genoodsaak om dit baie vroeër te doen. Die leerders was glad nie gewoond daaraan dat maats weer so naby hul persoonlike ruimte kom nie. Hulle het nooit al hul klasmaats geken nie, omdat hulle in groepe skool toe gekom het. Toe almal weer terug is, het ons baie gesukkel met boeliegedrag wat daagliks baie van ons tyd in beslag geneem het. Leerders moes weer opnuut bewus gemaak word van afknouery en geleer word om respek vir hul medeleerlinge en die hele skoolgemeenskap te hê,” sê Annedien Groenewald, onderwyseres by Parkdene Primêr.

“Hierdie program wat oor ‘n week gestrek het, het weer elke personeellid, ouer, leerder en ook ons gemeenskap bewus gemaak van wat boeliegedrag is en dat dit nie geduld moet word nie.  Ons moet oor afknouery praat en saamstaan om dit te bekamp. Ons het kompetisies geloods waaraan die leerders individueel en in klasverband kon deelneem. Dit was ’n lekker spanpoging en die onderwysers het dit ook vreeslik geniet. Dankie aan AfriForum wat ’n insiggewende en treffende boodskap oorgedra het aan ons leerders.”

Vir meer inligting oor AfriForum se teenboelieveldtog besoek gerus www.teenboelie.co.za.