AfriForum se teenboelieveldtogspan besoek Croydon House Private School
Die burgerregteorganisasie AfriForum se teenboelieveldtogspan het op 25 Julie by Croydon House Private School besoek afgelê en 435 leerders toegespreek oor afknouery in skole.
AfriForum se teenboelie-praatjie is gegrond op die volle wapenrusting van God en die leerders wat hierdie praatjie bywoon leer hoe om die geestelike wapenrusting te gebruik teen boeliegedrag. Die verskille tussen boeliegedrag en konflik word ook verduidelik.
Volgens Stacey Human-Layley, hoof van die graadeens, was daar verlede kwartaal besonders baie gevalle van boeliegedrag en kinders wat lelik was met mekaar. “In die grondslagfase word die woord ‘boelie’ baie keer in die verkeerde konteks gebruik en ons moet die kinders leer wat boeliegedrag is en nie is nie. Ons wil ook hê dat ons ouers moet sien en weet dat ons as skool aktief iets probeer doen aan boeliegedrag en dat ons nie boeliegedrag sal duld nie.”
“Die hoeveelheid kinders wat slagoffers van boeliegedrag in Suid-Afrika is, is ontstellend hoog. Dit is so belangrik dat ons kinders toerus met die nodige vaardighede om teen boeliegedrag op te staan en hulle ook te leer om nie boelies te wees nie,” sê Tania Scheepers, projekassistent vir Onderwys by AfriForum.
’n Studie in BMC Research Notes dui daarop dat 58% van studente al een of ander vorm van boeliegedrag ervaar het – waaronder fisiek, verbaal en sielkundig.
Hier is tekens waarvoor ouers kan uitkyk as hulle vermoed dat hulle kind ’n slagoffer van boeliegedrag is:
• kinders wil nie skool toe gaan nie;
• verandering in slaappatrone – hulle slaap baie meer of slaap baie minder;
• vriendverskuiwings vind plaas;
• akademiese punte en prestasies gaan agteruit;
• verandering in hul geaardheid – kom depressief voor.
“AfriForum bemagtig skole landwyd met dié veldtog vir die afgelope sewe jaar al deur hoop te skep en om kinders aan te moedig om mekaar met die nodige wedersydse erkenning en respek te hanteer. Hierdie veldtog maak ’n positiewe bydra tot die groter veiligheid van die gemeenskappe deur die boompies te buig terwyl hulle nog jonk is – die jeug is immers ons toekoms. Veilige skole sorg ook vir veilige gemeenskappe, nie net nou nie maar ook in die toekoms,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se gemeenskapsforumkoördineerder.
Vir meer inligting oor AfriForum se teenboelieveldtog en om die teenboelie- en kuberboeliegids gratis af te laai, besoek gerus www.teenboelie.co.za.