|

AfriForum se Suidstreek-buurtwagte ontvang toekennings

Tydens ’n geleentheid wat AfriForum se Geelhoutboom-plaaswag op 9 Desember 2021 by die Redberry-aarbeiplaas buite George aangebied het, het Eduan Naudé, voorsitter van AfriForum se George-tak, ’n toekenning namens buurtwagte en hul lede ontvang vir die uitnemende diens aan hul gemeenskappe. Dit volg nadat AfriForum op 27 November ’n gala-aand gehou het waartydens dié toekennings aan buurtwagte toegeken is. Buurtwagte het via Zoom ingeskakel en dié geleentheid van regoor die land bygewoon.

David Olivier, provinsiale veiligheidskoördineerder vir die Suidstreek, het ook die beplanning vir verdere opleiding en ontwikkeling van AfriForum se veiligheidstrukture in George vir 2022 aan die gaste oorgedra.

AfriForum se Suid-Kaap-veiligheidstrukture het die volgende toekennings verwerf:

Die Albertinia-plaaswag het ’n toekenning vir uitnemendheid ontvang en die Gemeenskapsveiligheidpenning vir uitmuntende diens wat gelei het tot die bevordering van veiligheid in sy/haar gemeenskap is aan die volgende lede toegeken: Johan Wessels (Albertinia-plaaswag), Nita Wessels (Albertinia-plaaswag), Wessel Cronje (Albertinia-plaaswag), Johan Crous (Hessequa-tak) en Eduan Naudé (George-tak).

“Die bydrae wat leiers soos die bogenoemde lede in ’n gemeenskap maak, kan nie gemeet word nie, so ook wat dit hulle persoonlik kos. Ons en die breër gemeenskap kan hierdie lede nie genoeg bedank vir hul vrywillige bydrae nie. Ons kan slegs erkenning gee soos ons dan ook nou hier doen. Daar is baie ander lede wat nie hier genoem word nie en vir elkeen van julle wil ek ook graag vandag dankie sê,” sê Olivier.

Volgens Arno Greyling, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap, is dit ’n voorreg om saam met hierdie lede te werk. “Ons wil julle graag bedank vir die ongelooflike rol wat elkeen van julle speel in die veiligheid van julle gemeenskappe, asook die goeie verhoudinge wat julle deur die jare gebou het met al die ander veiligheidsrolspelers.”

Raak vandag nog by AfriForum se veiligheidstrukture betrokke: SMS “Buurtwag” na 45353 (R1).

Soortgelyke plasings