AfriForum se Strand-buurtwag help waar nodig
AfriForum se Strand-buurtwag het op 24 Maart in samewerking met verskeie veiligheidsmaatskappye dieFairview-gholflandgoed gepatrolleer nadat dié landgoed die afgelope paar weke onder huisbrake deurgeloop het. AM Security, ADT, Night Guard Security en lede van Fairview-gholflandgoed se huiseienaarsvereniging het ook patrollie gery.
’n Veiligheidsvergadering het op 26 Maart gevolg in samewerking met AfriForum se Strand-buurtwag, ADT, United Independent Movement (UIM), Strand Patrol, Strand Neighbourhood Watch en inwoners van die Twin Palm-gebied. Die tema van die vergadering was “Die pad vorentoe” waartydens besprekings gehou is oor hoe om meer gemeenskapslede betrokke te kry by die buurtwagte, die moontlikheid om kameras by sleutelpunte te installeer en meer aktiewe en effektiewe patrollies.
“Dit is duidelik dat gemeenskapslede al hoe meer bewus raak van die misdaadprobleem in hul areas en besluit om self iets daaraan te doen. Een van AfriForum se doelwitte is om die gemeenskap op te lei, toe te rus en te mobiliseer om selfstandig te wees en sodoende hul eie gebiede te versterk en te verbeter,” sê Jacques Benade, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Boland.
Maak vandag nog ’n verskil in jou gemeenskap en raak betrokke by jou plaaslike AfriForum-tak: Besoek www.wordlid.co.za.