|

AfriForum se Springbok-tak skenk brandstof aan boere wat sprinkaanplaag bestry

Die AfriForum-tak in Springbok het die afgelope naweek 400 liter brandstof aan die boere van die Boesmanland geskenk om boere wat die erge sprinkaanplaag probeer bestry op hierdie manier te ondersteun.

Volgens Sarel Stone, voorsitter van AfriForum se Springbok-tak, is die plase in die omgewing baie ver uitmekaar en boere ry op eie onkoste met hul bakkies om die plaag te bestry. “Ná die goeie reën wat die afgelope agt tot 12 jaar se droogte gebreek het, het die gras mooi gegroei, maar die sprinkaanplaag wat nou in die gebied is, vernietig al die nuwe weiding wat die boere broodnodig het. Daarom het ons dit goedgedink om brandstof te skenk om die boere te help.” 

Party van die swerms is tot 12 km by 3 km groot en die sprinkane kom nie net in die Noord-Kaap voor nie. Alhoewel die staat gesê het hulle sal help, het die boere in die Springbok-omgewing nog weinig hulp ontvang.

“Dit is baie belangrik om saam te staan en boere te help waar nodig. Ons wil mense ook aanmoedig om boere te help deur brandstof te skenk of op enige ander wyse te ondersteun tydens hierdie vernietigende sprinkaanplaag,” sê Werner Strauss AfriForum se distrikskoördineerder vir die Kalahari

Maak vandag nog ’n verskil in jou gemeenskap en raak by jou plaaslike AfriForum-tak betrokke: SMS jou naam na 45350 (R1).

Soortgelyke plasings