|

AfriForum sê Sensus 2022-bevindings wys regering se fatale taalfoute uit

Die bevindings van die Sensus 2022-verslag bewys hoe verkeerd die regering se hantering van taal is. Dit is die kommentaar van AfriForum op dié verslag wat pas bekendgemaak is se syfers oor taalgebruik.

In die afdeling met statistiek oor die tale wat die meeste tuis deur mense in die land gepraat word, is bevind dat Afrikaans steeds die taal is wat die derde meeste as huistaal gebruik word, met Zoeloe in die eerste plek en Xhosa tweede. Engels wat volgens 2011 se sensus die vierde plek beklee het, het teruggeval na vyfde op die ranglys, met Sepedi wat nou die vierde grootste huistaal is.

Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, bewys dit weer dat Engels ’n handige brugtaal is, maar dat dit hoegenaamd nie deur almal in die land vlot verstaan of gebruik kan word nie.

“Mense sal hulleself altyd die beste in hulle huistaal kan handhaaf. Daar word, soos met die beoogde Bela-wetsontwerp, gepoog om ouers en kinders te oortuig dat Engels die beste taalkeuse vir onderrig is. Die skade wat dit aan Suid-Afrikaners se ontwikkeling op verskeie terreine doen, word misgekyk. Dit strek van die probleme wat hulle dan met die internalisering van abstrakte begrippe in vakke soos Wiskunde ondervind, tot by generasiegapings tussen hulle, hulle ouers en grootouers, asook met die ontwikkeling van hulle selfbeeld.”

Bailey meen die regering en taalorganisasies soos die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad moet die syfers indringend bestudeer en sorg dat die moedertaalaanbod in alle onderwysinstellings uitgebrei word. Verder moet staatsdepartemente en ander staatsondersteunde organisasies sorg dat hulle diens kan lewer in alle amptelike tale, nie net in geradbraakte Engels soos wat tans die geval is nie. Sy voeg by dat die verengelsing van die staatsdiens ’n tragiese bespotting van die Batho Pele-beginsels daarvan maak. “Mense word misverstaan of deur korruptes uitgebuit omdat hulle nie verstaan wat amptenare aan hulle sê nie. Dit geld veral vir die  weerloostes wat nie toegang tot goeie onderrig of hulp van byvoorbeeld regslui kan bekostig nie.”

“Deur tale provinsiaal volgens gebruik te prioritiseer, tegnologie in te span om inligting elektronies veeltalig beskikbaar te maak en tolke behoorlik op te lei en te akkrediteer, kan minstens twaalf tale effektief en bekostigbaar geakkommodeer word. Internasionale voorbeelde bestaan selfs wat hiermee kan help. Ongelukkig ontbreek die politieke wil om dit te doen, met die gevolg dat die bevolking se gemiddelde geletterdheidskoers daal, die land ekonomies agteruitgaan en dat mense weens swak dienslewering in ellende gedompel word,” sluit Bailey af.

Soortgelyke plasings