|

AfriForum se Sasolburg-buurtwag bied geslaagde skietkompetisie aan

Die AfriForum-buurtwag in Sasolburg het op 3 Augustus ’n baie geslaagde skietkompetisie by Fury Arms se binnenshuise skietbaan aangebied. Tydens ’n vorige opleidingsgeleentheid het die buurtwag besef dat daar baie mense is wat wapens besit en nie goed daarmee vertroud is nie omdat hulle nie genoeg skiet nie. Altesaam 31 mense van AfriForum, die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), Sasolburg Safety, Public Eye, die polisie en ADT Sekuriteit het aan dié skietdag deelgeneem.

Alle lede kon aan die dag deelneem al besit hulle nie wapens nie aangesien dit ’n goeie geleentheid is om mense te help en van wapens te leer. Kobus Pretorius van Public Eye was die wenner van die dag en ADT het as die groepwenner met die wisseltrofee weggestap. Die buurtwag beplan om meer gereeld skietkompetisies aan te bied en hoop die volgende een is nog groter.

“Hierdie skietdag slaan sommer baie vlieë met een klap. Nie net word die inwoners se skietvernuf verbeter nie, maar hulle leer mekaar ook beter ken en verkeer sosiaal met mekaar. Al hierdie dinge bevorder die gemeenskaplike doel, naamlik die veiligheid van inwoners van Sasolburg,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Volgens Johan Potgieter, AfriForum se buurtwagleier in Sasolburg, gaan die skietkompetisie eintlik oor ontspanning. “Die patrollies en ander werk wat die buurtwag doen, is baie ernstig en gaan dikwels met spanning gepaard. Die skietkompetisie dien dus ook as ontspanning en spanbou tussen die verskillende groepe wat baie goed saamwerk. Ons glo die kompetisie gaan groei en ons gaan probeer om nog meer mense te betrek,” sluit Potgieter af.

Klik hier om by AfriForum se buurtwagte betrokke te raak of kontak vir Potgieter by 082 337 5983 om by AfriForum se Sasolburg-buurtwag betrokke te raak.

Soortgelyke plasings