| |

AfriForum se regstryd vir skoon water teen Ngwathe-munisipaliteit duur voort

AfriForum se regstryd teen die Ngwathe-munisipaliteit vir behoorlike watervoorsiening aan die gemeenskap en die herstel van dié infrastruktuur duur steeds voort. Dié organisasie se omvattende hofaansoek sal eersdaags deur die Hooggeregshof in Bloemfontein aangehoor word.

Volgens Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier, is die opkomende hofaansoek ’n belangrike veldslag in die groter stryd om behoorlike water aan Parys te verseker. “Dié hofaansoek, om ’n strukturele interdik te verkry, is reeds in 2022 as dringend teen die munisipaliteit gebring sodat hulle sekere stappe kon neem om skoon water aan die gemeenskap te verseker nadat verskeie watermonsters aangetoon het dat daar onaanvaarbare hoë vlakke van E.coli in die drinkwater teenwoordig was.

“Die Hooggeregshof se bevinding was egter dat dié aansoek nie dringend was nie ten spyte van die hoё E.coli-vlakke. AfriForum is genoop om ’n aanvullende verklaring te liasseer en ook die Departement van Water en Sanitasie (DWS) en die Departement vir Samewerkende Regering en Tradisionele Sake (CoGTA) as partye tot die aansoek te voeg,” sê Pretorius.

Hierdie saak gaan nóú deur die hof aangehoor word. AfriForum se watermonsters wat aangedui het dat daar onaanvaarbare hoë vlakke van E.coli in die drinkwater was, en die onlangse positiewe resultate van cholera by die ingang van die watersuiweringsaanleg in Parys, Vredefort en ander areas van die Vaalrivier, benadruk die noodsaaklikheid van ’n hofbevel wat sal bepaal dat die watersuiweringswerke hertel moet word  en optimaal moet funksioneer,” brei Pretorius uit.

Die Ngwathe-munisipaliteit en die DWS is telkemale in kennis gestel van die haglike toestand van die watersuiweringswerke sowel as die rouriool wat op verskeie plekke direk in die Vaalrivier instroom.

AfriForum maan die munisipaliteit al vir langer as twee jaar om ’n kragopwekker aan te koop sodat die water gesuiwer kan word tydens lang kragonderbrekings in Parys. Die tender is uiteindelik in April 2023 uitgereik en het op 2 Mei gesluit. Tot op hede is daar egter nog steeds nie ’n tender toegeken nie.

“As daar nie dringend deur die provinsiale of nasionale regering ingegryp word nie stuur dié kwessie in Parys op ’n ramp af wat tot lewensverliese kan lei. Die munisipaliteit het duidelik nie die wil of die vermoë om hierdie waterkrisis op te los nie,” sluit Pretorius af.

Indien jy by dié AfriForum-tak wil betrokke raak: Skakel Schalk Burger by 082 653 4281.