|

AfriForum se privaatvervolgingseenheid sorg dat geregtigheid seëvier

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het oor die afgelope maand of wat verskeie oorwinnings op hul kerfstok geplaas. Oorwinnings is egter nie die rede hoekom dié eenheid by sake betrokke raak nie. Hul hoofdoel is om geregtigheid te laat geskied waar dit andersins nie sou gebeur het nie.

Ná ’n lang gestoei om mediese rekords by die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) te bekom, kon die privaatvervolgingseenheid daarin slaag om die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) te kry om die saak teen Leon Santos Conga te heropen en hom op klagte van poging tot moord en verkragting te vervolg. Hy het oor sy MIV-status gejok en Antoinette Ndishishi het ingestem tot onbeskermde seks.

“Ons grootste uitdaging in hierdie saak was om die mediese rekords by die SANW te bekom. Toegang tot die rekords was reeds aan die NVG geweier wat daartoe gelei het dat die saak vóór ons betrokkenheid reeds twee keer weens ’n tekort aan getuienis uitgegooi is,” sê Barry Bateman, woordvoerder van die privaatvervolgingseenheid.

Conga is op 11 Junie op albei klagte skuldig bevind en sal op 7 Augustus gevonnis word. Ndishishi, wat in 2018 by die eenheid om hulp aangeklop het, het haar dankbaarheid teenoor die privaatvervolgingseenheid uitgespreek.

Antoinette Ndishishi

“Tot die eenheid betrokke geraak het, het ek net my ma se ondersteuning gehad. Ek voel dat geregtigheid nou geskied het en ek het gehuil toe die landdros hom skuldig bevind het. Ander vroue moenie bang wees om ook na vore te kom as iets soortgelyks met hulle gebeur het nie,” sê Ndishishi.

Volgens Bateman is die privaatvervolgingseenheid vasbeslote om ook ander slagoffers van geslagsgebaseerde misdade te help.

Granny Madihlaba glo dat geregtigheid nooit vir haar seun, Motheo Madihlaba, sou geskied het as dit nie vir die hulp en ondersteuning van die privaatvervolgingseenheid was nie. Dít volg ná Jonas Noediegi Sebati op 10 Junie in die Middelburg-landdroshof gevonnis is. Sebati is vir strafbare manslag tot agt jaar gevangenisstraf gevonnis – die vonnis is vir vyf jaar opgeskort.

Sebati het Madihlaba, ’n kitskosafleweraar, op 16 April 2022 doodgery toe Sebati twee voertuie oor ’n sperstreep verbygesteek en trompop met Madihlaba se bromponie gebots het. Madihlaba is op die toneel dood verklaar. Verskeie motoriste wat die ongeluk aanskou het, het aangevoer Sebati was ten tye van die ongeluk merkbaar onder die invloed van alkohol.

“Hierdie saak het gesloer en die NVG het aangevoer daar is nie genoeg getuienis om Sebati te vervolg nie. Die grootste rede hiervoor was dat die bloedalkoholverslag nog nie voltooi was nie. In gevalle soos dié maak die NVG te veel staat op hierdie verslag eerder as om na die ander inligting te kyk. Daar was oorgenoeg ooggetuies wat kon bevestig dat Sebati onder die invloed van alkohol was,” sê Bateman.

“My seun is twee jaar gelede doodgemaak. AfriForum het verseker dat die skuldige sy dag in die hof kry. Ek is bly dat hy gevonnis is. Die saak is nou verby en ek kan aanbeweeg,” het Madihlaba ná afloop van hofverrigtinge gesê.

In wat as ’n beduidende stap op die pad na geregtigheid beskou word, het dié eenheid daarin geslaag om die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se dossier oor Fikile Mbalula, die ANC se sekretaris-generaal, se 2016 gesinsvakansie na Dubai te bekom. Dit volg danksy ’n suksesvolle aansoek kragtens die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia). Die eenheid is nou selfs meer daarvan oortuig dat daar ’n saak teen Mbalula is en dat die besluit om hom nie te vervolg nie, irrasioneel is.

“Ondanks tekorte dui die huidige getuienis daarop dat Mbalula verskeie weldoeners het wat sy uitspattige leefstyl finansier. Dit laat die vraag ontstaan oor waarom hierdie leidrade nie opgevolg is nie? Bewerings wat in beëdigde verklarings gemaak is, is op sigself aanvaar en nie bevraagteken nie,” sê Bateman.

Met inagneming van die swak ondersoek en irrasionele besluit om nie te vervolg nie, blyk dit vir ons dat die SAPD en die NVG Mbalula beskerm, sê Bateman. Dit het net die eenheid se vasberadenheid versterk om te verseker dat Mbalula sy dag in die hof kry.

Barry Bateman

In twee ander sake waar die privaatvervolgingseenheid betrokke was, is Dylan Ferreira en Kgaugelo Masenya onderskeidelik skuldig bevind aan aanranding en het hulle skuldig gepleit op klagte van strafbare manslag.

Ferreira is skuldig bevind vir sy “brutale” aanval op die 80-jarige Lucille Oosthuysen. Daar was ’n dispuut oor ’n spaarsleutel van ’n eiendom wat Ferreira en sy verloofde by Oosthuysen en haar man gehuur het waarna Ferreira Oosthuysen grond toe gestamp het en sy op die plaveisel te lande gekom het. Die privaatvervolgingseenheid het die NVG gehelp om beeldmateriaal in die hof te speel wat deurslaggewend was in Ferreira se skuldigbevinding.

Adv. Gerrie Nel, hoof van die privaatvervolgingseenheid

Masenya het volle verantwoordelikheid aanvaar vir die botsing wat hy veroorsaak het toe hy 16 jaar oud was wat Patrick Jewell (65) se lewe geëis het. Die privaatvervolgingseenheid het Jewell se dogter Jacky in die saak ondersteun en verseker dat Masenya in die hof verskyn. Hy het die NGV in April versoek dat sy saak op afwending geneem word pleks daarvan dat hy verhoor word. Afwending behels ’n alternatiewe proses waartydens die beskuldigde ’n ooreenkoms buite die hof met die aanklaer bereik. Dit sou beteken het dat Masenya nie ’n kriminele rekord sou hê nie.

In die lig van die erns van Masenya se oortreding het die eenheid vir Jacky gehelp om Masenya se afwendingsaansoek teen te staan. Masenya het skuldig gepleit ná die aanklaer die hof in kennis gestel het dat sy afwendingsaansoek afgekeur is.

Jacky Jewell

“Ons is tevrede dat Masenya verantwoordelikheid aanvaar het vir Patrick se dood. Sy optrede het ’n familie sonder ’n pa en oupa gelaat en onbeskryflike emosionele skade veroorsaak. Dit moes egter nooit drie jaar geneem het om die saak af te sluit nie. Jacky en haar familie het gesmag na geregtigheid. Dit sou nooit kon geskied het sonder die toetrede van die privaatvervolgingseenheid nie. Dit is nog ’n teken van ’n stelsel wat verval en die gevoellose verontagsaming van slagoffers van misdaad,” sê Bateman.

Soortgelyke plasings