AfriForum se Pretoria-Wes-tak kikker sportvelde op
Die AfriForum-tak in Pretoria-Wes het nie twee keer gedink om hand by te sit toe hy ’n versoek ontvang om die plaaslike sportvelde in Danville skoon te maak nie. Die skoonmaakprojek het op Erfenisdag (24 September) plaasgevind.
Leerders van Eden Akademie maak van dié sportvelde gebruik. ’n Barmhartige Samaritaan van Sion Privaat Akademie het aan AfriForum die versoek om hulp met die skoonmaak van die sportvelde, namens Eden Akademie gerig.
Ongeveer 30 mense het hul vakansiedag opgeoffer om die sportvelde vir die skool en die Danville-gemeenskap netjies te maak.
“Dit is projekte en samewerkingsaksies soos hierdie wat ’n gemeenskap teen die regering se verval laat sterk staan. Aksies wat in gemeenskappe vir gemeenskappe van stapel gestuur word, is die enigste sleutel tot ’n beter toekoms,” sê Dewet Ungerer, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Suid.
Ungerer sluit af deur die gemeenskap aan te moedig om betrokke te raak om die Pretoria-Wes-gemeenskap op te bou.
Sluit vandag by die plaaslike AfriForum-tak aan deur ’n e-pos te stuur na voorsitter.pretoria-wes@afriforumtak.co.za.