|

AfriForum se Potchefstroom-tak roei riete by die Trimpark uit

Die riete wat langs die Trimpark in Potchefstroom groei bied slaapplek vir kwaaddoeners en verhoed ook pogings om die kanaal wat lek te herstel. Daarom het die AfriForum-tak in Potchefstroom saam met Green Thorn Environmental Solutions op 6 Oktober die riete met onkruiddoder gespuit. Dié tak het reeds in Julie vanjaar met hierdie projek begin toe hulle die dooie riete afgesny het.

Piet Theron, omgewingsakebeampte van die Potchefstroom-tak, het die Departement van Water en Sanitasie (DWS) gekontak oor die kanaal wat lek – wat bydra daartoe dat die riete dig groei. Dié departement het toestemming gegee dat die riete wat langs die kanaal groei ook afgesny kan word ten einde die herstelwerk aan die kanaal te vergemaklik.

“Alhoewel hierdie projek miskien nie so baie aandag van die inwoners trek nie, is dit van onskatbare waarde. Nie alleen word daar na die natuur omgesien nie, maar dit dra ook by tot die veiligheid van Potchefstroom,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Raak by die Potchefstroom-tak betrokke en help om ’n verskil in jou dorp te maak. Kontak vir Douglas Bourn by 083 232 1020 om betrokke te raak.

Soortgelyke plasings