|

AfriForum se Pionier-tak herstel slaggate as deel van #OnsDorp-projek

AfriForum se Pionier tak het op 14 Oktober 250 kg teer gebruik om sewe slaggate in Meyerspark te vul as deel van die organisasie se #OnsDorp-projek.

Daar is slaggate gevul by onder meer die hoek van Cussonia- en Fakkelstraat, verder af in Fakkelstraat, asook in Pretoriaweg en Joanstraat. Hierdie slaggate het ’n gevaar vir motoriste ingehou en moes dringend gevul word. Die verkeer is tydens die herstelproses suksesvol herlei en beheer deur die AfriForum-buurtwaglede in hierdie area.

“AfriForum het die #OnsDorp-projek begin om ’n selfdoen ingesteldheid te kweek veral wanneer dit kom by probleme wat die gemeenskap op voetsoolvlak ervaar en self kan oplos. Hierdie slaggat-projek is ’n fantastiese voorbeeld van ondernemings en gemeenskapslede wat self hul ruggraat styf maak teen die verval wat elke dag meer sigbaar word in ons gemeenskappe,” sê Dewet Ungerer, AfriForum se distrikskoördineerder vir groter Pretoria-Suid

AfriForum se Pionier-tak saam met Uitkyk Vleis- en Supermark  en die plaaslike raadslid Ben Chapman het verseker dat hierdie projek suksesvol afgehandel is. 

Stuur ’n e-pos na pioniers@afriforumtak.co.za om by hierdie tak betrokke te raak.

Soortgelyke plasings