|

AfriForum se Piet Retief-tak rig waterpunte op

Die AfriForum-tak in Piet Retief het van 14 tot 18 September 2020 sy eerste ses noodwaterpunte op strategiese plekke in dié dorp opgerig sodat inwoners en gemeenskapslede in tye van nood toegang tot water sal hê. Dít volg nadat ’n brief aan die gemeenskap gestuur is oor opgraderings en dat Piet Retief vir ongeveer twee weke geen watertoevoer gaan hê nie. Waterbeperkings vind ook gereeld in die Mkhondo Plaaslike Munisipaliteit se jurisdiksie plaas en inwoners is dan vir tye sonder water.

Daar is by elk van die volgende plekke een tenk – wat sowat 5 kiloliter water kan stoor – opgerig: Deborahstraat 2, Jasmynestraat 11, Magnoliastraat 20 en die Piet Retief-moskee in Kempville, terwyl twee watertenks by die A.G.S. Kerk Fontana opgerig is. Hierdie water sal vir huishoudelike gebruik aangewend kan word.

“Hierdie projek se sukses en volhoubaarheid is afhanklik van die hele gemeenskap se samewerking en betrokkenheid. Ons wil gemeenskapslede wat daartoe in staat is aanmoedig om tot die projek by te dra, veral persone wat boorgate het en kan help om water te verskaf,” sê Bronwen Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoëveld.

“Ons wil graag nóg waterpunte in die Piet Retief-omgewing oprig om meer water tydens onderbrekings beskikbaar te hê. Ons wil ook vir Build It bedank vir die voorsiening van die watertenks wat hierdie waterpunte moontlik gemaak het,” sê Gerhard Bohmer, voorsitter van AfriForum se Piet Retief-tak.

Raak vandag nog by hierdie projek betrokke: SMS “Piet Retief” na 45350 (R1).

Soortgelyke plasings