|

AfriForum se Orania-protospan en OVD trek vier kabeldiewe vas

’n Berugte span vermeende koperkabeldiewe, wat maande lank al aktief is in die Bo-Karoo, het hulle vroeg gisteroggend (5 November) vasgeloop in die gedugte AfriForum Orania-protospan en lede van die Orania Veiligheidsdienste (OVD). Vier verdagtes is aangekeer in ’n operasie wat met die hulp van tegnologie en veiligheidsdienste se vernuf en deursettingsvermoë getakel is. 

Dié arrestasies volg nadat ’n nommerplaatuitkenningskamera (LPR-kamera) Maandag buite Hopetown ’n verdagte voertuig wat vantevore al met kabeldiefstal in die omgewing verbind is, uitgeken het. Die betrokke voertuig is hierna op verskeie punte in die gebied opgemerk en AfriForum se protospan en die OVD taak- en reaksiespanne is geaktiveer.

Teen omstreeks middernag het ’n veldkamera (trail cam) die vermeende diewe opgetel waar hulle besig was om kabels te steel. Die verdagte voertuig het hierna, om ongeveer 04:00, vanuit Petrusville in die rigting van Orania gery en die rowers en hul buit op die R369 opgelaai.

’n Groep AfriForum-protospan- en OVD-reaksiemaglede het die voertuig agterna gesit en die voertuig ongeveer 2 km suid van Orania van die pad af gedwing, waarna die res van die veiligheidsgroepering wat in die omgewing ontplooi was, bystand gelewer het met die aankeer van die verdagtes. Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) is van die operasie verwittig en het kort hierna die verdagtes op die toneel gearresteer. Sowat 250 kg koperkabels ter waarde van sowat R30 000 is in die verdagtes se besit gevind.

“Hierdie kabeldiewe teister en ontwrig die gemeenskap van Orania en omliggende dorpe nou al vir ’n geruime tyd,” sê Daniël Coetsee, AfriForum se Orania-protospanleier. Volgens Coetsee is die sukses van dié operasie te danke aan goeie beplanning, doeltreffende bevel- en beheermaatreëls en uitstekende samewerking tussen AfriForum se protospan en OVD.

“Samewerking tussen die onderskeie veiligheidsgroeperinge is die sleutel tot die doeltreffende beveiliging van die Bo-Karoo,” sluit Coetsee af.

Die SAPD se ondersoek na die verdagtes se betrokkenheid by kabeldiefstal in die omgewing duur voort.

Soortgelyke plasings