AfriForum se Oos-Rand-takke moedig publiek aan om GOP-vergaderings by te woon
Die Ekurhuleni Metro het op Saterdag 30 Maart 2019 die datums vir die Oos-Rand se openbaredeelnamevergaderings rakende die geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) op Facebook bekend gemaak.
Die vergaderings is dus op uiterse kort kennisgewing aan die publiek gekommunikeer omdat die eerste vergaderings reeds op 2, 3 en 4 April 2019 plaasvind. AfriForum se takbesture aan die Oos-Rand gaan egter tydens dié vergaderings aanmaningsbriewe op die onderskeie lede van die burgemeesterskomitee beteken. Hulle poog om uitstel van die vergaderings te eis sodat die publiek die geleentheid kan hê om behoorlik aan die proses deel te neem.
AfriForum se Oos-Rand-takke is sedert Oktober 2018 besig om verfynde kommentaar op te stel oor probleme in die onderskeie dorpe. Dié kommentaar sal tydens die vergaderings ingedien word. Die takbesture het op munisipale uitgawes, die munisipaliteit se ruimtelike ontwikkelingsplan (ROP) en die sonering van verskeie oop gebiede gefokus.
“Dit is uiters belangrik dat die publiek kennis neem van die GOP-proses en aan die openbare vergaderings deelneem wat in April 2019 gehou word. Ons moet ’n sê hê in die toewysing van hulpbronne en dienslewering, asook wat die munisipaliteit vir elke woongebied beplan,” sê Marie Naude, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Rand.
Die openbaredeelnamevergaderings vir April sal soos volg plaasvind:
Gebied | Datum | Tyd | Plek |
Springs | 2 April 2019 | 18:00 | Springs-saal – h.v. Plantation- en South Mainweg |
Germiston | 2 April 2019 | 18:00 | Dinwiddie-saal – h.v. Sunston- en Althemlaan |
Kempton Park | 3 April 2019 | 18:00 | Kempton Park-stadsaal – h.v. C.R. Swart- en Pretoriaweg |
Alberton | 3 April 2019 | 18:00 | Alberton-stadsaal (nuwe raadsaal) – Alwyn Taljaardtlaan 1 |
Benoni | 4 April 2019 | 18:00 | Actonville-gemeenskapsaal – Mayetstraat |
Brakpan | 9 April 2019 | 18:00 | Brakpan Binnenshuise Sentrum – h.v. Escombe- en Elliotweg |
Boksburg | 11 April 2019 | 18:00 | Reiger Park-gemeenskapsaal – Leon Ferreirarylaan |
Edenvale | 11 April 2019 | 18:00 | Edenvale-gemeenskapsentrum – h.v. Van Riebeeck- en Tweedestraat |
Ons moedig inwoners van die Oos-Rand aan om aan hierdie openbare vergaderings deel te neem en by hul naaste AfriForum-tak betrokke te raak. SMS “GOP” na 45342 (R1) en ondersteun hierdie aksie.