|

AfriForum se Oos-Moot-tak help met voedselprojek in die Moot

AfriForum se Oos-Moot-tak het al R33 500 tydens die staat van inperking ingesamel vir die projek wat hulle saam met Solidariteit Helpende Hand en Kilnerpark Sekuriteit onderneem om gesinne in die Moot te ondersteun wat deur die COVID-19-pandemie geraak word. Dié geld is aan Helpende Hand oorbetaal.

Die tak kon danksy Langplaas Boerdery twee ton groente skenk en het gehelp om 10 ton groente te verskuif wat Helpende Hand en Kilnerpark Sekuriteit onder markprys aangekoop het. Die Oos-Moot-tak het verder met AfriForum se Matlabas-plaaswag saamgewerk en groente vir twee blouwildebeeste en twee rooibokke geruil. Dié plaaswag, wat ook ’n kosprojek bedryf, het toegang tot vleis, maar kort groente. Burning Bush, ’n onderneming in die Moot wat ook lid is van die Oos-Moot-tak, het twee varke vir dié projek geskenk.

“Dit is wonderlik hoe die gemeenskap, sakeondernemings en boere in tye van nood saamwerk. Baie dankie aan almal wat tot dusver bygedra het,” sê Andries Opperman, veiligheidsvoorsitter van AfriForum se Oos-Moot-tak.

“AfriForum is dankbaar vir die geleentheid om saam met al die rolspelers saam te werk om ’n verskil in die Moot te maak,” sê Sampie Steinberg, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria

Raak vandag nog by jou naaste AfriForum-tak betrokke en wees deel van die verskil: SMS jou naam na 45341 (R1).