|

AfriForum sê NRP-steun vir BELA-wetsontwerp bewys skoolgemeenskappe moet self kan besluit 

AfriForum meen die steun van agt uit die nege provinsiale wetgewers vir die omstrede Wysigingswetsontwerp Basiese Onderwyswette (ook bekend as die BELA-wetsontwerp) in vanoggend se volle sitting van die Nasionale Raad van Provinsies (NRP), bewys dat politici enigiets – insluitend gehalte onderwys en ons kinders se toekoms – op die altaar sal plaas vir hul eie ideologiese doelstellings en korttermyn verkiesingsukses. Volgens AfriForum bewys dit waarom finale besluite oor sleutelkwessies soos skole se taal- en toelatingsbeleid nie in polities-gedienstige amptenare en politieke aanstellings se hande mag berus nie, maar by gemeenskappe self.

Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, beskou dit as ontnugterend om te sien hoe politici die wetsontwerp ten alle koste en met groot spoed probeer afhandel voor die verkiesing, ten spyte van groeiende publieke teenstand daarteen.

“Sedert 2017 was die publiek in oorweldigende getalle teen die wetsontwerp gekant. Enkele wysigings is deur die jare daaraan aangebring, maar sleutelkwessies soos besluite oor taal- en toelatingsbeleide waaroor die publiek teenstand daarteen bied, is steeds deel daarvan. Die afgelope week is protesaksies teen BELA van uiteenlopende gemeenskappe deur die land gesien, maar steeds ignoreer die ANC-regering die publiek. Dit bewys ook dat alle ondernemings van die Departement van Basiese Onderwys om sogenaamd met beheerliggame oor hierdie sake oorleg te pleeg, net lippediens sal wees,” meen Bailey.

AfriForum hou by die voorneme om die BELA-wetsontwerp nasionaal en indien nodig, ook internasionaal teen te staan solank dit ’n bedreiging vir die voortbestaan van Afrikaanse skole en gehalte onderrig inhou. Konsepregstukke is reeds gereed in dié verband. Verdere aankondigings van AfriForum sal deurlopend volg in dié verband. Die publiek kan hulle mandaat vir AfriForum se regsaksies gee by www.stopbela.co.za.

Soortgelyke plasings