|

AfriForum se noodwaterpunt bring verligting vir Pretorianers met droë krane

Skaars ’n week nadat AfriForum se Moreletapark-tak ’n noodwaterpunt in dié Pretoriase voorstad opgerig het, is dit ingespan om die dringende waternood wat inwoners tans hier ondervind, te verlig. Meer as 4 300 liter water is gisteraand alleen binne enkele ure vir raadop inwoners by dié waterpunt getap en sal voortaan oop wees vir inwoners wat watertekorte ondervind.

Krane in groot dele van die stad het sedert die naweek leeggeloop vanweë Rand Water se beplande instandhouding van sy Mapleton- en Palmiet-waterstelsels. Hoewel die waternutsmaatskappy vroeër vanoggend aangekondig het dat die omvattende herstelwerk afgehandel is, het Rand Water ook op sy Facebook-blad gewaarsku dat dit een tot drie dae kan neem voordat watervoorsiening na laagliggende gebiede weer ten volle herstel sal wees, terwyl hoogliggende gebiede selfs langer op water kan wag.   

AfriForum se Moreletapark-tak het gisteraand tientalle inwoners bygestaan met die tap van water by sy noodwaterpunt in Waterkloof Glen, terwyl water ook aan inwoners van die Bronberg Aftreelandgoed in Olympus gelewer is.

Volgens Sampie Steinberg, streekshoof by AfriForum, is die waternood in die stad nog nie verby nie. “Hoewel die publiek van die beplande herstelwerk in kennis gestel is en talle die nodige voorbereidings kon tref, is ’n uitgerekte tydperk waarin die krane leeg staan ’n krisis in enige huishouding. Die hele stad gaan tans as’t ware gebuk onder die nypende watertekorte en dit kan boonop nog etlike dae neem voordat watertoevoer ten volle herstel is. Hierdie situasie beklemtoon die behoefte aan noodwaterpunte soos dié van AfriForum se Moreletapark-tak en die tak sal voortgaan om hierdie noodsaaklike hulp aan die gemeenskap te verleen om die druk te help verlig,” verduidelik Steinberg.

Die Moreletapark-noodwaterpunt is geleë by die Woodglen-kompleks in Rooigrasstraat, Waterkloof Glen. Om die publiek doeltreffend by te staan met die tap van water, is die punt daagliks oop vanaf 17:30 tot 19:00. Dié waterpunt het ’n kapasiteit van 11 000 liter water en word gevul met boorgatwater.

AfriForum het reeds in 2019 sy eerste noodwaterpunte by Laerskool Pierneef in Pretoria opgerig. Sedertdien is daar jaarliks landwyd nóg noodwaterpunte aangebring met die totaal wat tans meer as 90 punte staan. Die kapasiteit van hierdie waterpunte wissel van 500 liter tot 100 000 liter en die die totale kapasiteit landwyd is tans nagenoeg 720 500 liter.

Navrae rakende die Moreletapark-noodwaterpunt kan gerig word aan die Moreletapark-takvoorsitter, Dewald la Grange (081 566 7578).

Raak vandag nog by AfriForum se Moreletapark-tak betrokke. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings