| |

AfriForum se nasionale patrollie skep hoop

Die burgerregte-organisasie AfriForum het die afgelope naweek altesaam 141 gemeenskappe regoor die land by hul nasionale patrollie betrek. Die doel van dié patrollie is om gemeenskappe teen misdaad te mobiliseer, maar ook om hoë sigbaarheid en samewerking tussen veiligheidsrolspelers op ’n nasionale en plaaslike vlak te bewerkstellig.

Sowat 2 700 AfriForum-lede en 1 600 ander veiligheidsrolspelers het aan die patrollie deelgeneem. Tydens die patrollie is ’n afstand van 85 288 km met 2 470 voertuie afgelê. Meer as 110 insidente is suksesvol hanteer.

Die ander instansies wat deelgeneem het sluit verskeie privaat buurtwagte, sekuriteitsmaatskappye, gemeenskapspolisiëringsforums, insleepdienste, polisiestasies, plaaslike ondernemings, paramediese dienste en verkeersafdelings in.

“Die aantal persone en verskillende veiligheidsinstansies wat die afgelope naweek aan AfriForum se nasionale patrollie deelgeneem het, bewys die noodsaaklikheid van sulke aksies. Samewerking soos hierdie is nodig om misdaad hok te slaan en gemeenskapsweerbaarheid te verhoog,” sê Hillel Coetzer, AfriForum se veiligheidshoof vir die noordstreek.

 

“Dit is verfrissend om te sien hoeveel gemeenskappe by ons veiligheidstrukture betrokke raak. Dit laat ons voel dat ons op die regte pad is. Dit skep ook vertroue by die gemeenskap en verskerp bewustheid en waaksaamheid om misdaad in hul omgewings te beveg. Goeie samewerking tussen buurtwagte, die SAPD en plaaslike veiligheidsinstansies stel AfriForum se veiligheidstrukture in staat om aksies soos die nasionale patrollie suksesvol uit te voer, maar ook om die gemeenskap in tye van nood by te staan,” sê Joseph Renaud, AfriForum se veiligheidshoof vir die sentraalstreek.

 

“Hoë sigbaarheidspatrollies is proaktief – dit ontmoedig misdadigers om misdaad te pleeg maar skep terselfdertyd ook hoop in gemeenskappe. Dit is dus noodsaaklik dat hierdie soort projekte gereeld aangepak word saam met alle veiligheidsrolspelers in ’n gemeenskap. Leiers in gemeenskappe moet inisiatief neem en sulke projekte plaaslik van stapel stuur,” sluit Johandré van Zyl, AfriForum se veiligheidshoof vir die suidstreek af.

Raak by jou plaaslike AfriForum-tak betrokke: SMS jou naam na 45353 (R1 per SMS).