|

AfriForum se Naboomspruit-tak woeker voort tydens Desember

AfriForum se Naboomspruit-tak in Mookgophong het die dorp in Desember behoorlik reggeruk vir vakansiegangers om dié mooi bosveldse dorp ten volle te geniet. Die tak het onkruid op sypaadjies met onkruiddoder gespuit, slaggate gevul en padmerke by stopstrate geverf.

Die verkeerseilande in die hoofstraat is ook oorgeverf. AfriForum se Naboomspruit-tak het alreeds 70 liter wit- en 5 liter geel padverf vir hierdie projek gebruik. Daar is ook tonne sand weggery nadat heelwat strate gevee en skoongemaak is. Daarbenewens is talle slaggate in Desember ook herstel. Die tak beplan om nog heelwat slaggate te herstel, waaronder in die pad by Die Olifant-restaurant.

AfriForum se Naboomspruit-tak beplan ook om vanjaar druk op die Modimolle-Mookghopong Plaaslike Munisipaliteit toe te pas om te verseker dat inwoners van Mookgophong se krane vol water bly en hul vullis op skedule verwyder word.

“Al hierdie werk deur die gemeenskap is niks nuut vir ons tak nie aangesien ons gereeld help om aan ons gemeenskap diensbaar te wees. Die tak het al verskeie projekte aangepak en suksesvol voltooi om Naboomspruit in ’n pragdorp te verander. Vir hierdie tak is volgehoue diensbaarheid ’n prioriteit,” sê André van der Schyff, tesourier van AfriForum se Naboomspruit -tak.

Die AfriForum-tak in Naboomspruit beplan om verskeie projekte in die komende maande aan te pak en wil graag die gemeenskap uitnooi om saam aan hierdie aksies deel te neem. Besoek AfriForum Naboomspruit op Facebook vir meer inligting oor toekomstige projekte of kontak Van der Schyff per e-pos by tesourier.naboomspruit@afriforum.co.za.

Soortgelyke plasings