AfriForum se Naboomspruit-tak verwyder vullis in Mookgophong
AfriForum se Naboomspruit-tak het vir twee agtereenvolgende weke die vullis in Mookgophong verwyder nadat die Modimole-Mookgophong Plaaslike Munisipaliteit se vullisverwyderingsvragmotor gebreek het. Vullis het vir minstens twee weke op die sypaadjie opgehoop totdat AfriForum in samewerking met Zero Waste ingegryp het.
Die opgehoopte vullis was onooglik én onhigiënies, wat gesondheidsrisiko’s vir die gemeenskap ingehou het.
“Die AfriForum-tak en Zero Waste se betrokkenheid om hierdie dringende kwessie op te los, is ’n bewys van die krag van gemeenskapsgedrewe inisiatiewe. Hul gesamentlike pogings verlig nie net die onmiddellike probleem – vullis wat ophoop – nie maar is ook ’n voorbeeld van burgerlike verantwoordelikheid en proaktiewe probleemoplossing. Deur vinnig in te tree om die gaping te vul wat die gebreekte vullisverwyderingsvragmotor gelaat het, het hierdie organisasies hul toewyding aan die Mookgophong-gemeenskap gewys,” sê Hendrik Kotze, AfriForum se distrikskoördineerder vir Limpopo.
AfriForum se Naboomspruit-tak gaan voortgaan om die gemeenskap te help waar die munisipaliteit hulle vaal. Klik hier om insette oor spesifieke vereistes ten opsigte van vullisverwydering te lewer. Op dié manier kan die gemeenskap bydra tot die ontwikkeling van volhoubare en pasgemaakte oplossings, wat die uitdaging van vullisverwydering in Mookgophong doeltreffend sal hokslaan.