AfriForum se Malmesbury-tak sorg vir ’n groener toekoms
Die AfriForum-tak in Malmesbury het in samewerking met Big Tree Growers-groothandelkwekery 17 bome by The Lucky Lucy Foundation buite dié dorp geplant as deel van AfriForum se boomplantinisiatief. Volgens Deon de Jager, AfriForum se distrikskoördineerder in die Boland, het die burgerregte-organisasie vanjaar landswyd reeds meer as 3 000 bome geplant.
“Deur inheemse bome te plant, is ons nie bloot besig om die omgewing te bewaar en dit esteties te verbeter nie; ons wys ook dat ons hoop vir die toekoms het. Bome is uiteraard ’n belangrike deel van die ekostelsel en ’n noodsaaklike natuurlike hulpbron, maar ook deel van ons erfenis,” sê De Jager.
AfriForum fokus jaarliks op sowel ’n algemene as ’n skaars boomspesie. Die algemene boom vir 2018 is die opregte geelhout (Podocarpus latifolius), terwyl die skaars boom die grootwitgat (Boscia albitrunca) is. AfriForum het sy takke aangemoedig om inheemse bome te plant wat maklik in hul plaaslike omgewings aard.
“Boomplantmaand bied die perfekte geleentheid om ’n blywende verskil in ons gemeenskappe te maak. Bome het egter deurlopende sorg nodig om tot voordeel van almal te floreer en AfriForum se Malmesbury-tak onderneem om hierdie sorg te verskaf. Dit is simbolies daarvan dat ons as AfriForum hier is om te bly en ware hoop vir die toekoms het,” meen De Jager.
Die Malmesbury-tak moedig die gemeenskap aan om deel van ’n groener toekoms te word.