|

AfriForum se Kraaifontein-tak dra by tot ’n groener toekoms

Die burgerregteorganisasie AfriForum se Kraaifontein-tak het op 10 en 11 September 2021 bome aan verskeie skole in Kraaifontein geskenk as deel van die organisasie se jaarlikse boomplantmaand.

Die tak het onder meer waterpere (Syzygium guineense) en struike (Viburnum sinensis) aan Laerskool Simonsberg, Laerskool Fanie Theron, Laerskool Aristea, Hoërskool Eben Dönges en Hoërskool Monument Park geskenk.

Hulp is ook aan Laerskool Simonsberg verleen deur bome te snoei wat vyf bakkievragte vol takke opgelewer het. Die laaghangende bome het ’n veiligheidsrisiko vir die gemeenskap ingehou deurdat misdadigers gereeld onder die bome geskuil het.

“Die gemeenskap het Saterdag gewys dat selfdoen beter is as niksdoen. Ons wil al die rolspelers en vrywilligers wat betrokke was by die projek bedank vir hul bydrae om ’n groot sukses van dié projek te maak,” sê Leendert Stoop, voorsitter van AfriForum se Kraaifontein-tak.

“Om ’n boom te plant is ’n geloofsdaad vir die toekoms. Wanneer jy ’n boom plant weet jy nie of jy self die skaduwee van die boom gaan geniet nie, maar jy het die vertroue dat jou kinders en kleinkinders dit wel gaan geniet,” sê Johardt van Heerden, AfriForum se distrikskoördineerder in die Boland.

Die tak moedig die gemeenskap aan om by dié projek betrokke te raak en deel te word van ’n vooruitstrewende en groener toekoms. SMS “Kraaifontein” na 45350 (R1).

Soortgelyke plasings