AfriForum se kommer oor Lesufi se misdaadbestryders blyk geldig ná inhegtenisneming
AfriForum se kommer oor die werwing- en keuringsproses vir premier Panyaza Lesufi se sogenaamde “misdaadbestryders” in Gauteng is vandeesweek geregverdig ná die inhegtenisneming van een van dié lede. Die inhegtenisneming van die misdaadbestryder, vir sy beweerde betrokkenheid by ’n skynontvoering en -rooftog, beklemtoon die gebrek aan oorsig en integriteit van die program.
AfriForum het herhaaldelik alarm gemaak oor die oorhaastige en twyfelagtige aard van die werwingsproses vir Gautengse misdaadbestryders, aangesien bewerings van korrupsie, onreëlmatighede en die onvoldoende keuring van kandidate hierdie program van die begin af omring. Die jongste voorval bevestig net die burgerregteorganisasie se bekommernisse en beklemtoon die risiko’s verbonde aan die ontplooiing van ongekwalifiseerde individue as wetstoepassingsagente.
“Die feit dat ’n misdaadbestryder – wat met die beskerming van die gemeenskap toevertrou is – by misdade betrek word, is nie net kommerwekkend nie, maar beklemtoon ook die roekeloosheid van premier Lesufi se optrede. In plaas daarvan om die veiligheid en welstand van Gauteng se inwoners te prioritiseer en behoorlike prosedures te volg om die program se integriteit te verseker, is hierdie program oorhaastig geïmplementeer,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid.
Premier Lesufi se oënskynlike versuim om behoorlike opleiding en wettige keurings standaard te maak, is ’n ernstige verbreking van openbare vertroue. Ongelukkig is die eerlike en toegewyde individue wat deel vorm van die misdaadbestrydersprogram se reputasie ook nou beskadig deur Lesufi se politiekespeletjies. Sy agterlosigheid het ’n stelsel geskep wat kwesbaar is vir verdere korrupsie, wat beide Gautengse inwoners en ander misdaadbestryders in gevaar stel.
“Openbare veiligheid moet nooit vir politieke gewin verruil word nie. Die wrede aanranding van ’n jong man in Katlehong deur hierdie misdaadbestryders in Augustus 2023 is ’n skerp herinnering van die potensiële gevare wat ontoerekeningsvatbare en onvoldoende opgeleide wetstoepassers inhou,” sê Broodryk.
AfriForum bly daartoe verbind om aanspreeklikheid in openbare veiligheidsprogramme te verseker en sal voortgaan om voorspraak te maak vir egte, deursigtige en doeltreffende misdaadvoorkomingstrategieë in Gauteng.
Voeg jou stem by die stryd teen korrupsie en wanbestuur in Gauteng deur www.lesufimoetwaai.co.za te besoek en Lesufi se afdanking te eis.