AfriForum se Fichardtpark- en Wilgehof-buurtwag ontvang bloedingbeheeropleiding
Die patrolleerders van AfriForum se Bloemfontein-buurtwagte in Fichardtpark en Wilgehof het op 5 Februarie 2022 Stop the Bleed-opleiding by Critical Training Concepts ontvang.
Hierdie opleiding is ’n groot behoefte by AfriForum-buurtwagte omdat buurtwagpatrolleerders daagliks met ongelukke en traumaverwante voorvalle werk.
“Opleiding soos hierdie bemagtig ons patrolleerders met die nodige en belangrike kennis om ernstige bloeding vinnig te identifiseer en te behandel. Ongelukke en misdaad vind al hoe meer gereeld plaas en kennis soos hierdie kan ’n groot verskil maak in iemand se lewe,” sê Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerder vir Bloemfontein.
“AfriForum bly aan die voorpunt met inisiatiewe om sy buurtwaglede te bemagtig en veilig te hou met hierdie tipe opleiding. Ons lede is gewoonlik eerste op tonele om bystand te verleen en hierdie opleiding maak ’n daadwerklike verskil. AfriForum se fokus vir 2022 is opleiding om ons lede beter voor te berei vir die uitstekende take wat hulle verrig,” sê Joseph Renaud, AfriForum se hoof van Gemeenskapsveiligheid vir die sentraalstreek.
Sluit aan vandag nog by AfriForum aan en skep saam hoop: SMS “AfriForum” na 45344 (R1) om by AfriForum se Bloemfontein-takke aan te sluit.