|

AfriForum se Edenvale-tak rou oor die heengaan van geliefde gemeenskapsleier

Die AfriForum-tak in Edenvale betreur die afsterwe van Linda McKenzie, die tak se ondervoorsitter, wat Saterdagoggend 26 Oktober ná ’n dapper stryd om haar gesondheid oorlede is. Sy het in September ’n rugoperasie by die Netcare Linksfield-hospitaal ondergaan, waarna haar toestand skielik versleg het.

Linda het sedert die ontstaan van die Edenvale-tak in Maart 2018 as ’n sterk pilaar van hierdie gemeenskap gedien en was onwrikbaar in haar toewyding aan die opheffing en beskerming van Edenvale. Sy het diep spore in die gemeenskap gelaat en haar werk en passie vir verbetering en veiligheid sal nog lank deur almal onthou word.

Sondag 27 Oktober het meer as 50 voertuie by Meadowdale Mall saamgekom vir ’n herdenkingsrit ter ere van Linda se nalatenskap. Die konvooi was ’n roerende huldeblyk aan ’n besondere vrou wat nooit teruggestaan het in die stryd teen misdaad nie en altyd bereid was om ’n helpende hand uit te steek waar dit nodig was. Haar deursettingsvermoë en haar liefde vir die mense van Edenvale het almal geïnspireer en die gemeenskap bly hoop gegee.

“Linda McKenzie sal altyd onthou word as ’n lig in Edenvale – iemand wat altyd bereid was om haar tyd en energie te gee vir die opheffing en beskerming van ander. Sy was werklik ’n voorbeeld van wat dit beteken om in diens van jou gemeenskap te staan,” sê Jurie Ferreira, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Rand.

“AfriForum en die gemeenskap sal Linda se onbaatsugtige diens en warm hart altyd koester. Ons bid haar familie en geliefdes vertroosting en krag toe in hierdie moeilike tyd,” sluit Ferreira af.

Soortgelyke plasings