AfriForum se Durban-tak stig eenheid vir gemeenskapsveiligheid
AfriForum se Durban-tak het op 25 Januarie ’n gemeenskapsveiligheideenheid (GVE) gestig wat uit ’n groot groep buurtwagte sal bestaan. Dié buurtwagte sal deel vorm van AfriForum se veiligheidsinisiatiewe wat besig is om in KwaZulu-Natal (KZN) vlam te vat. Tot dusver is daar al een buurtwag in die Durban-omgewing gestig en daar word beplan om dié getal binnekort uit te brei. Die buurtwagte sal in samewerking met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) die gemeenskap beveilig.
“Ons beplan om ons lede met die nodige toerusting te bemagtig vir veiligheidsaksies. Daarbenewens is opleiding van kardinale belang, veral om vinnig, doeltreffend en korrek op te tree tydens voorvalle. Verder is dit vir ons belangrik om ’n struktuur met goeie kommunikasie te vorm,” sê Stuart Affleck, leier van die AfriForum-tak in Durban se GVE.
AfriForum dien ook op die SAPD se forum vir provinsiale landelike gemeenskapsveiligheid en is deel van die provinsiale landelike veiligheidsplan vir KZN.
“AfriForum se Durban-tak wil graag met alle rolspelers saamwerk om gemeenskapsveiligheid te bevorder en sodoende inwoners veilig te hou,” sê Donald Brown, voorsitter van AfriForum se Durban-tak.
Inwoners wat graag by AfriForum se Durban-GVE wil betrokke raak, kan ’n WhatsApp stuur na 064 552 0357 of e-pos voorsitter.durban@afriforumtak.co.za.