|

AfriForum se Delmas Valke-buurtwag naasbeste (uit 50 buurtwagte) in noordstreek

AfriForum se Delmas Valke-buurtwag het Saterdagaand (24 Augustus) tydens ’n prysuitdeling op die organisasie se nasionale kongres tweede plek behaal in die kategorie vir die beste buurtwag in die noordstreek.

Die kongres het van 22 tot 25 Augustus by ATKV Klein Kariba buite Bela-Bela in Limpopo plaasgevind. Gedurende die prysuitdeling het AfriForum-takke en -buurtwagte erkenning gekry vir die besonderse werk wat hulle in gemeenskappe doen.

Van al die 50 AfriForum-buurtwagte in die noordstreek is Mpumalanga se Delmas Valke-buurtwag die naasbeste. AfriForum se Benoni-buurtwag in Gauteng is as die beste buurtwag in die noordstreek aangewys.

AfriForum se Delmas Valke-buurtwag het ’n hoë suksessyfer met die verskeie suksesse wat dié buurtwag al in hierdie klein plattelandse dorpie bereik het. Van Januarie 2024 tot nou het die buurtwag meer as 60 verdagtes in verband met onder meer huisbrake, kapings en gewapende rooftogte in hegtenis geneem. Een van die arrestasies hou ook verband met ’n bedrogsaak waar meer as R2,5 miljoen gesteel is. Dié buurtwag het vanjaar ook al 18 gesteelde voertuie teruggevind. Verder het die Delmas Valke-buurtwag het sedert die begin van die jaar op 33 mediese voorvalle gereageer en op die toneel gehelp totdat mediese personeel opgedaag het. Die buurtwag het ook onlangs ses nuwe protospanlede opgelei om te help om die buurtwag se paraatheidsvlakke verder te verhoog.

“Ons is baie trots op hierdie prys en sal aanhou om ons gemeenskap te dien,” sê Carel Botha, voorsitter van AfriForum se Delmas Valke-tak.

Inwoners word versoek om AfriForum in Mpumalanga te ondersteun: Besoek www.wordlid.co.za.

Soortgelyke plasings