AfriForum se Coligny-tak skep hoop tydens boomplantmaand
Die AfriForum-tak in Coligny het 200 bome – onder meer by sewe plaaslike skole, die hoofstraat en in die Tlhabologang-omgewing – as deel van dié burgerregte-organisasie se boomplantmaand geplant.
Volgens Charné Blignaut, AfriForum se assistentkoördineerder vir Marico, het die organisasie vanjaar meer as 3 000 bome landwyd geplant. “Deur inheemse bome te plant is ons nie bloot besig om die omgewing te bewaar en dit esteties te verbeter nie – ons wys ook dat ons hoop vir die toekoms het. Bome is uit die aard van die saak ’n belangrike deel van die ekostelsel en ’n noodsaaklike natuurlike hulpbron, maar ook deel van ons erfenis,” sê Hendrik Muyburg, omgewingsakebeampte van AfriForum se Coligny-tak.
AfriForum fokus jaarliks op sowel ’n algemene as ’n skaars boomspesie. Die algemene boom vir 2018 is die opregte geelhout (Podocarpus latifolius), terwyl die skaars boom die grootwitgat (Boscia albitrunca) is. AfriForum het sy takke aangemoedig om inheemse bome te plant wat maklik in hul natuurlike omgewings aard.
“Boomplantmaand bied die perfekte geleentheid om ’n blywende verskil in ons gemeenskappe te maak. Bome het egter deurlopende sorg nodig om tot voordeel van almal te floreer en die AfriForum-tak in Coligny onderneem om hierdie sorg self te verskaf. Dit is simbolies daarvan dat ons as AfriForum hier is om te bly en opregte hoop vir die toekoms het,” meen Tewie Pieters, plaaslikeregeringsakebeampte van die Coligny-tak.
Die AfriForum-tak in Coligny bedank Wildflower Nursery vir die boomskenkings en Midchem vir die vervoer en aflewering van die bome.
Die tak moedig die gemeenskap aan om deel te word van ’n groener toekoms.