|

AfriForum se Brits-buurtwag help aktief om misdaad te bekamp

Die AfriForum-buurtwag in Brits het in Januarie verskeie suksesse behaal, benewens die feit dat hulle gereeld patrollies ry om die gemeenskap veilig te hou. Die buurtwag het op drie huisbrake en een aanrandingsvoorval gereageer, terwyl buurtwaglede ook die SAPD gehelp het om verdagtes vas te trek wat vir ’n bedrogsaak gesoek is. Altesaam 12 arrestasies is gedurende die maand gemaak te danke aan die buurtwag se flink optrede. Die buurtwag handhaaf goeie kommunikasie tussen die verskillende sektore wat hulle in staat stel om dadelik bewus te wees van risiko’s en misdaad.

“Daar is goeie samewerking tussen al die rolspelers en inligting word uitgeruil wat take baie vergemaklik. Ons doen egter ’n beroep op die publiek om sake by die SAPD aan te meld, sodat geregtigheid kan geskied en dat akkurate statistiek gevorm kan word. Dit help die buurtwag ook om probleempunte en -areas te identifiseer en meer patrollies word dan in daardie gebied gery,” sê Thys van Heerden, leier van AfriForum se Brits-buurtwag.

“Hierdie suksesse is weer eens ’n bewys dat AfriForum se spesialisopleiding, toerusting, plaaslike en nasionale radionetwerke en samewerking met ander rolspelers uiters suksesvol is. Die feit dat gemeenskapslede inligting direk aan die buurtwag kan kommunikeer, maak vinnige optrede moontlik. Goeie samewerking tussen die buurtwag, polisie en plaaslike veiligheidsinstansies stel ons in staat om die gemeenskap in tye van nood te help,” sê Joseph Renaud, AfriForum se hoof vir gemeenskapsveiligheid vir die sentraalstreek.

“Ons is baie dankbaar dat die AfriForum-buurtwag in Brits van krag tot krag groei. Dit is werklik ’n opoffering wat gemaak word en ’n besluit wat geneem word deur mense om hulle gemeenskap veiliger te maak vir almal wat daar woon. Die buurtwag doen goeie werk om hulle gemeenskap te help beveilig,” sê Petrus Coetzee, AfriForum se distrikskoördineerder vir Marico.

Raak vandag nog by AfriForum se Brits-buurtwag betrokke: SMS “Brits” na 45344 (R1) of skakel vir Thys van Heerden by 067 395 6307.

Soortgelyke plasings