|

AfriForum se blou-en-groendruppeluitslae voorspel ’n donker toekoms vir water in Suid-Afrika

AfriForum se jaarlikse, onafhanklike blou-en-groendruppelverslag dui daarop dat 87% van munisipale drinkwater veilig is vir menslike gebruik. Die organisasie waarsku egter dat Suid-Afrikaners nie hieroor verlig moet wees nie, aangesien vanjaar se groendruppeluitslae daarop dui dat slegs 13% van verwerkte rioolwater aan die minimum standaarde vir storting in ’n waterhulpbron voldoen. Die algehele wanbestuur van die volledige watervoorsieningsketting wat deur hierdie skokkende syfers verteenwoordig word, voorspel boonop dat Suid-Afrikaners in die toekoms nie net duurder kostes vir die behandeling van drinkwater te wagte kan wees nie, maar ook dat ‘n toenemende risiko bestaan dat verbruikers aan onveilige drinkwater blootgestel kan word.

AfriForum se blou-en-groendruppelverslag vir 2024 is vandag bekendgemaak tydens ’n mediakonferensie teen die agtergrond van die Percy Stewart-rioolsuiweringsaanleg.

Die Percy Stewart-rioolsuiweringsaanleg buite Krugersdorp staan tans aan die kern van ’n grootskaalse waterbesoedelingskrisis in die Mogale City-munisipaliteit. Die verwerkte rioolwater wat deur hierdie rioolsuiweringsaanleg in die omgewing gestort word, het vanjaar – vir die derde agtereenvolgende jaar – nie nie aan die minimum standaarde vir storting in ’n waterhulpbron voldoen nie. Dié disfunksionele aanleg is daarom tekenend van die omvangryke en toenemende verval wat munisipaliteite oor die hele land se voorsiening van drinkwater en rioolsuiweringsdienste tans kenmerk.

AfriForum se blou-en-groendruppelverslag bevat die uitslae van waterkwaliteitmonsters wat AfriForum se netwerk van 160 takke landwyd gedurende Augustus van munisipale drinkwater (bloudruppel) sowel as die uitvloei van verwerkte rioolwater (groendruppel) vanuit plaaslike rioolsuiweringsaanlegte geneem het.

Dit is vanjaar reeds die 12de jaar wat AfriForum dié verslag saamstel om betroubare inligting oor die gehalte van Suid-Afrika se drink- en rioolwater aan die publiek bekend te maak. Hierdeur vervul AfriForum ’n belangrike waghondfunksie waardeur druk op die regering, van nasionale tot plaaslike regeringsvlak, toegepas kan word om wanpresterende owerhede tot verantwoording te roep.

Vanjaar se toetse het die teenwoordigheid of afwesigheid van verskeie chemiese en bakteriologiese komponente ondersoek. Die toetse bepaal onder meer die teenwoordigheid van die bakterie E. Coli, wat diarree, naarheid, braking en selfs nierversaking tot gevolg kan hê, en fekale kolivorme bakterieë, wat siektes soos ingewandkoors (oftewel buiktifus), lewerontsteking en disenterie kan veroorsaak.

Die 2024-bloudruppeluitslae in ’n neutedop:

  • Toetse gedoen op: Munisipale drinkwater
  • Aantal dorpe/stede getoets: 210
  • Nasionale uitslag: 87% van drinkwater is veilig vir menslike gebruik

Hoewel 87% van die bloudruppeltoetse (182 uit 210 toetse) in 2024 aandui dat munisipale drinkwater veilig is vir menslike gebruik en oorkoepelend daarop wys dat Suid-Afrika se drinkwater steeds in ’n groot mate aan die minimumvereistes voldoen, verteenwoordig dit egter ’n afname van nege persentasiepunte vanaf die 96% van bloudruppeltoetse (185 uit 193 toetse) wat in 2023 op veilige drinkwater gedui het. Waar slegs agt gevalle in 2023 op onveilige drinkwater gedui het en hierdie uitslae beperk was tot Mpumalanga, die Vrystaat en KwaZulu-Natal, kom onveilige munisipale drinkwater in 2024 in 28 dorpe, versprei oor elkeen van die nege provinsies voor.

Die 2024-groendruppeluitslae in ’n neutedop:

  • Toetse gedoen op: Verwerkte rioolwater by rioolsuiweringsaanlegte
  • Aantal rioolsuiweringsaanlegte getoets: 150
  • Nasionale uitslag: 13% voldoen aan minimum standaarde

Vanjaar se groendruppeluitslae, wat ’n aanduiding gee of riool tot ’n voldoende standaard verwerk word om veilig in die omgewing vrygestel te word, is eweneens skokkend. AfriForum het vanjaar die uitvloei van 150 rioolsuiweringsaanlegte getoets. Slegs 13% hiervan (20 uit 150 toetse) het in 2024 aan die minimum standaarde vir storting in ’n waterhulpbron voldoen. Die uitvloei van die oorgrote meerderheid rioolsuiweringsaanlegte (87%, oftewel 130 uit 150 toetse) voldoen nie aan die voorgeskrewe standaarde nie. Vergeleke met 2023 (toe 81% van toetse by rioolsuiweringsaanlegte op besoedeling gewys het) verteenwoordig dit ’n toename van ses persentasiepunte.

’n Onrusbarende waarneming is dat die uitslae van 2023 se groendruppeltoetse aangedui het dat geen verwerkte rioolwater in die Vrystaat of die Oos-Kaap aan die voorgeskrewe standaarde voldoen het nie. In 2024 is ’n verdere drie provinsies (naamlik Limpopo, Mpumalanga en KwaZulu-Natal) by dié onbenydenswaardige geselskap gevoeg en is daar dus nou vyf provinsies waar geen van die groendruppeltoetse se uitslae aan die standaarde voldoen het nie.

“AfriForum se 2024-blou-en-groendruppelresultate skets ’n donker en kommerwekkende prentjie van die bestuur van Suid-Afrika se watervoorsiening- en rioolsuiweringstelsels,” meen Marais de Vaal, AfriForum se raadgewer vir Omgewingsake. “Met weinig tot geen verbetering in die afgelope vyf jaar se uitslae te bespeur nie, is die verwagting dat ’n gebrek aan toegang tot skoon drinkwater en die besoedeling van natuurlike waterbronne in die toekoms selfs meer gaan toeneem, tensy daar dringend en ingrypend opgetree word.”

Volgens Lambert de Klerk, AfriForum se bestuurder vir Omgewingsake, funksioneer watervoorsiening- en rioolsuiweringstelsels nie behoorlik nie omdat die oorgrote meerderheid van munisipaliteite, wat hoofsaaklik vir water-en-sanitasiedienste verantwoordelik is, deurlopend onderpresteer. Hul wanprestasie ontstaan weens swak bestuur, ’n gebrek aan finansiering, instandhouding en beskerming van bestaande infrastruktuur. “Munisipaliteite slaag ook nie daarin om nuwe infrastruktuur te ontwikkel en in werking te stel om met bevolkingsgroei in pas te bly nie,” verduidelik De Klerk.

De Klerk waarsku ook dat die regering alleen nie vertrou kan word om die waterkrisis op te los nie. “AfriForum glo dat die waterkrisis in wese uit swak bestuur spruit. Daarom lê die enigste suksesvolle oplossing vir die waterkrisis en die uiteindelike volhoubare bestuur van Suid-Afrika se waterhulpbronne in samewerking tussen en belyning van al die vlakke van die regering, verskillende staatsdepartemente, die privaat sektor en gemeenskapsorganisasies.”

Soortgelyke plasings