|

AfriForum se Bethal-tak verskaf al ’n miljoen liter water aan gemeenskap in 2024

AfriForum se Bethal-tak het die afgelope naweek amptelik ’n miljoen liter water in totaal sedert Januarie vanjaar in tye van nood aan die gemeenskap voorsien. Dit volg ná beplande onderhoud deur Rand Water die watertoevoer na die dorp vir byna ’n week lank ontwrig het. Die watertoevoer was teen 6 Augustus steeds nie volledig herstel nie.

Die Bethal-tak het reeds sedert 5 Julie die gemeenskap bygestaan toe die eerste fase van Rand Water se onderhoud op hul netwerk plaasgevind het. Die tak het gesorg dat waterpunte buite die dorp vol is sodat die plaaslike brandweerdienste toegang tot water het in ’n noodgeval. Daar is ook 20 000 liter vir een van die skole gevat nadat hulle watertenks weens ’n foutiewe klep leeggeloop het. Die tak se noodwaterpunte was ook vol en gereed om water aan gemeenskapslede te voorsien. Daar is 20 000 liter water by die AC Kerk noodwaterpunt afgelaai en die tak het ook met die boere in die omgewing gereël om die munisipaliteit se tenkwaens vol te maak. Voorts is daar ook 60 000 liter water vir die week vanaf plase gekry.

Tydens die tweede fase van die instandhoudingswerk, wat geskeduleer was van 26 tot 29 Julie, het die Bethal-tak 380 000 liter water aan die gemeenskap verskaf. Intussen verskaf die Bethal-tak steeds water aan gemeenskapslede wie se watertoevoer nog nie heeltemal herstel is nie.

“Ons is vooraf gewaarsku oor die beplande instandhoudingswerk en daarom kon ons voorbereid wees en die gemeenskap meer doeltreffend bystaan. Dit is egter vir ons kommerwekkend dat die Govan Mbeki Plaaslike Munisipaliteit nie ekstra stoorkapasiteit toelaat nie en dat die gemeenskap reeds 24-uur ná die beplande onderbrekings begin het sonder water gelaat is,” sê Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoëveld.

Raak vandag nog betrokke by AfriForum se Bethal-tak om saam ’n verskil in jou gemeenskap te maak. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings