|

AfriForum se Bethal-groentetuin lewer grootste oes nog

Die AfriForum-tak in Bethal se gemeenskapsgroentetuin het in November die grootste oes nog opgelewer sedert sy ontstaan in 2021. Daar is meer as ’n half ton spinasie geoes en na gemeenskapsorganisasies versprei, waaronder die Bethal-sopkombuis, die SAVF Silwerjare Tehuis, die Palm Oord Tehuis, Laerskool Marietjie van Niekerk en die Kosmos-kinderhuis in Kriel. Die projek se uie-aanplantings word ook tans geoes en sal eersdaags versprei word. Hierdie projek word met ’n boorgat ondersteun andersins sou daar geen meer produksie wees nie weens die waterkrisis in die dorp.

“Hierdie projek ondersteun die mees kwesbare mense in ons gemeenskap. Ons is dankbaar en geseënd dat ons so baie individue hierdeur kan help,” sê Marilè Nieuwoudt, koördineerder vir AfriForum se Bethal-gemeenskapstuinprojek.

Die waterkrisis, wat nou al sinoniem is met Bethal, het steeds die dorp lamgelê. Skole en tehuise was raadop maar danksy AfriForum se koördinerende rol met boere van die Bethal-omgewing is water beskikbaar gestel. Watertenks is gratis vanaf plase aangery. Die noodwaterpunte in die dorp word ook oorval deur inwoners, wat nêrens anders water kan kry nie.

Boonop is daar nog geen duidelike antwoorde oor waarom Rand Water nie genoeg water verskaf nie. AfriForum ondersoek ook bewerings dat die Govan Mbeki Plaaslike Munisipaliteit die waternetwerk swak bestuur en nie water aan ander inwoners wou verskaf nie omdat dit die inwoners van Emzinoni negatief sou beïnvloed. Intussen word dele van die dorp vir meer as veertig aaneenlopende dae sonder water gelaat. Nadat AfriForum en inwoners druk toegepas het, is die water verdeel soos dit by die netwerk invloei. Dit het veroorsaak dat water vir die eerste keer in meer as ’n maand na droë dele soos Bethal Rand gevloei het. Dié verligting was egter van korte duur toe die watertoevoer skaars 14 dae later weereens onderbreek is.

“Die opoffering wat ons boere vir die gemeenskap maak, is ongelooflik, veral in die lig daarvan dat die omgewing deur ’n reuse-droogte geteister word. Ons is dankbaar vir elke druppel water wat die boere kosteloos verskaf,” sê Hennie Bekker, distrikskoördineerder vir AfriForum in die Hoëveld.

Soortgelyke plasings