|

AfriForum se Albertinia-plaaswag werk saam met SAPD en Suid-Kaap Blitspatrollie om misdaad te bekamp

Die AfriForum-plaaswag in Albertinia het van 18 November tot 3 Desember saam met die SAPD en ander veiligheidstrukture in die omgewing gewerk om misdaad hok te slaan. Hierdie aksie het weereens die goeie samewerkingsverhouding van die Albertinia-plaaswag en die plaaslike SAPD uitgelig.

Verskeie smokkelhuise is deursoek, verdagte voertuie wat op die LPR kamera’s opgemerk is en as verdag gelys is, is afgetrek en deursoek en beplande veiligheidsoperasies is uitgevoer.

Die mees onlangse suksesse sluit in arrestasies wat gemaak is vir die besit van dwelms, besit van gesteelde eiendom, aanranding, hantering van n vuurwapen in dorpsgebied asook die bestuur van voertuie sonder ’n geldige bestuurslisensie. In alle gevalle is die arrestasies uitgevoer deur die SAPD en is saaknommers uitgereik.

“Ons is baie dankbaar en trots op die samewerking en verhouding wat ons nou al oor ’n tydperk met die SAPD van Albertinia en die Suid-Kaap Blitspatrollie kon vestig. Dit is net moontlik as daar wedersydse vertroue en respek is,” sê Johan Wessels, buurtwagleier by AfriForum se Albertinia-plaaswag. “Vir hierdie samewerking om voort te duur en te verseker dat ons plaaswag ten alle tye op ons beste funksioneer is dit nodig dat ons lede nie net toegerus word met die regte toerusting nie, maar ook met goeie opleiding en dit is presies wat ons as deel van AfriForum se veiligheidstrukture ontvang. In die lig van die feestyd waar misdaad veral toeneem neem ons saam met die SAPD en Suid-Kaap Blitspatrollie gesamentlik die verantwoordelikheid vir die veiligheid van ons omgewing.”

Volgens Arno Greyling, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap, is veiligheid ‘n absolute prioriteit in gemeenskappe. “Mense is siek en sat daarvoor om in vrees te leef en is toenemend bereid om skouer aan die wiel te sit en self verantwoordelikheid vir hul veiligheid te aanvaar. AfriForum glo daarin dat alle veiligheidsrolspelers moet saamwerk aan ’n gemeenskaplike doel en ons vat graag hande met die groter gemeenskap van Albertinia en omliggende areas om die gebied te beveilig.”

“Ons is baie opgewonde om te sien hoe ons harde werk agter die skerms besig is om vrug te dra. Verder is ons dankbaar om te sien hoe daar stewige en goeie verhoudinge gebou word met ander rolspelers in die veiligheidsgemeenskap soos die SAPD. Die veiligheidsuitdagings wat die gemeenskappe deesdae in die gesig staar vereis dat plaas- en buurtwag-lede toegerus is met die nodige kennis om met selfvertroue op te tree en goeie besluitneming aan die dag kan lê,” sê David Olivier, AfriForum se provinsiale veiligheidskoördineerder vir die suidstreek.

Raak vandag nog by AfriForum se veiligheidstrukture betrokke: SMS “Buurtwag” na 45353 (R1).

Soortgelyke plasings