|

AfriForum Sakenetwerk bankvas agter gemeenskap van entrepreneurs wat Vrouenetwerk help kweek

Die Vrouenetwerk, gedryf deur die entrepreneur Annelize Blom, het vir die eerste keer sedert die Covid-19-pandemie ’n netwerkgeleentheid by die Anna Beulah-plaas net buite Durbanville aangebied. Met behulp van AfriForum Sakenetwerk se inkoop, het nagenoeg 110 vroue, wat almal hul eie ondernemings het, op 1 November bymekaargekom en die geleentheid gekry om met eendersdenkende vroue bande te bou. Sommige van dié vroue het selfs hul ondernemings ten toon gestel, terwyl Magriet Groenewald, ’n sosiale media-kenner, die gaste toegespreek en bemagtig het om sosiale media vir hulle te laat werk.

Sanderien van der Walt, bestuurder van AfriForum Sakenetwerk, het ook die groep entrepreneurs toegespreek en die belangrikheid van goeie netwerke en verhoudings in die bedryf benadruk. AfriForum Sakenetwerk, ’n landwye netwerk waar entrepreneurs mekaar kan opspoor, aanspoor en ondersteun, was saam met Akademia een van die hoofborge van hierdie geleentheid.

“Dis belangrik vir AfriForum Sakenetwerk om deel te wees van netwerke soos hierdie, waar die impak wat ondernemings op hul gemeenskappe het en die verskil wat dit maak, duidelik sigbaar is. Dis vir AfriForum Sakenetwerk ’n riem onder die hart om te sien hoe ondernemings mekaar ondersteun en opbou. Wanneer ondernemings die waarde van samewerking sien, is dit ook waar jy sien hoe gemeenskappe verbeter,” sê Van der Walt.

Blom, wat Vrouenetwerk vyf jaar gelede op die been gebring het, sê die vroue het die stories en aanbiedings behoorlik ingedrink. “Ek het net weereens besef hoe groot die behoefte aan só ’n samekoms vir vroue in die besigheidswêreld is. Vrouenetwerk se doelwit is om entrepreneurs aan te moedig, by te staan, en in ’n veilige omgewing, sonder ongesonde kompetisie en veroordeling, ’n gevoel van samehorigheid te kweek. Die pad van ’n entrepreneur is geïsoleerd, maar met hierdie platform vorm entrepreneurs ’n gemeenskap waar hulle nie meer alleen is nie,” voeg Blom by.

Die volgende geleentheid word reeds vir vroeg volgende jaar beplan. Vroue met ondernemings in die Wes-Kaap kan Vrouenetwerk op sosiale media volg om die volgende datum neer te pen.

Om deel te word van AfriForum Sakenetwerk, besoek www.afriforumsakenetwerk.co.za en registreer jou onderneming gratis.

Soortgelyke plasings