AfriForum ruik ’n rot oor vrot rivierwater in Stellenbosch; dien klag in by Inligtingsreguleerder
Beskikbare feite van onder meer die Departement van Water en Sanitasie (DWS) rakende die Stellenbosch-munisipaliteit se rioolsuiweringsaanlegte en die gehalte van verwerkte rioolwater wat vanuit aanlegte in hierdie munisipaliteit in die Eerste- en Veldwagtersrivier vloei, vereis volgens AfriForum dringende optrede. Daarom het die burgerregteorganisasie ’n klag by die Inligtingsreguleerder (IR) ingedien om aan te dring dat inligting hieroor, wat reeds in Oktober 2023 ingevolge Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) van die munisipaliteit aangevra is, aan AfriForum oorhandig word. AfriForum hou vol dat inligting uit munisipale bronne dié van DWS weerspreek en daarop gemik is om die probleme te misken en te onderspeel en die publiek derhalwe te mislei.
AfriForum se klag by die IR volg in reaksie op ’n jaar lange stryd. Nadat die Stellenbosch-munisipaliteit AfriForum se PAIA-aansoek vir inligting oor beweerde besoedeling van en rioolstorting in Stellenbosch se riviere geweier het, is ’n appèlproses gevolg. Ook dié proses het misluk omdat die inligting volgens die munisipaliteit vertroulik is. AfriForum is egter oortuig dat die beskikbaarstelling daarvan in die Stellenbosch-gemeenskap se belang is en dat inwoners die reg het tot toegang van hierdie inligting.
Intussen bevestig DWS se geïntegreerde regulatoriese inligtingstelsel (Iris) dat water wat onlangs by Stellenbosch se rioolsuiweringsaanlegte getoets is, nie aan die nodige standaarde voldoen nie. Die Iris-waterbestuursplatform bied aan onder meer die publiek toegang tot rekords van munisipaliteite se wetlike nakomingsmoniteringsresultate as ’n meganisme om deursigtigheid te bevorder.
Volgens die Iris-rekords oor verwerkte rioolwater van die Stellenbosch-rioolsuiweringsaanleg toon die 116 mees onlangse monsteranalises dat daar in 61 gevalle nie aan die vereiste gehaltestandaarde voldoen is nie. Dit kom neer op ’n nienakomingsvlak van 53%. Benewens verskeie fisiese en chemiese eienskappe wat nie op standaard was nie, het 21 analises (oftewel 18% van die 116 ontledings) gewys op die teenwoordigheid van E. coli (Escherichia coli) bo die toelaatbare vlakke. In een geval is tot 206 000 dele per 100 ml aangemeld – ver bo die toelaatbare perk van 10 dele per 100 ml. Dit dui daarop dat onvoldoende verwerkte riool in Stellenbosch se riviere gestort is, wat stroomaf ernstige gesondheidsrisiko’s kan inhou.
In die geval van die Wemmershoek-rioolsuiweringsaanleg toon die 190 mees onlangse monsteranalises dat daar in 115 gevalle nie aan die vereiste gehaltestandaarde voldoen is nie. Dié syfer wys daarop dat verwerkte rioolwater in nagenoeg 61% van dié gevalle nie aan die standaard voldoen het nie. Voorts is E. coli bo die toelaatbare vlakke in 37 analises (19% van die 190 ontledings) aangemeld – in een geval is tot 3 800 000 dele per 100 ml aangemeld.
DWS se nasionale Groendruppelvorderingsverslag vir 2023 wat in November verlede jaar vrygestel is, skets ook ’n kommerwekkende prentjie van Stellenbosch se rioolsuiweringsaanlegte. Dié verslag bevat die resultate van ’n omvattende jaar lange assessering van die land se munisipale rioolsuiweringswerke. Daarvolgens het die Stellenbosch- en die Wemmershoek-rioolsuiweringsaanlegte ’n kumulatiewe risikogradering van onderskeidelik 86,4% en 82,4% behaal (’n hoër persentasie dui op hoër risiko). Dit plaas beide aanlegte in die hoërisiko-kategorie en is ’n aanduiding van swak prestasie in kritieke aspekte van prosesbeheer, instandhouding, kapasiteit en nakoming van die toepaslike gehaltestandaarde vir die vrystelling van verwerkte rioolwater. Stellenbosch-munisipaliteit se prestasie is boonop in die verslag as “treurig” (“dismal”) en “kommerwekkend” (“deep concern”) bestempel, onder meer weens die swak mikrobiologiese gehalte van verwerkte riool en die munisipaliteit se onvermoë om die nodige inligting aan die departement te verskaf vir die bepaling van die akkuraatheid van die resultate wat die munisipaliteit op Iris gerapporteer het.
Volgens Jacques Benade, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Boland, is Stellenbosch-munisipaliteit se onlangse bewerings dat daar “geen probleme” met water in dié munisipaliteit is nie, strydig met dit wat bronne soos die Iris-platform en die Groendruppelverslag toon. “Die inwoners van Stellenbosch sal nie langer toelaat dat die munisipaliteit hulle ’n rat voor die oë draai nie,” beklemtoon Benade. “Die waarheid moet uit en AfriForum is gereed om voort te veg in die belang van inwoners, ondernemings, boere en die gemeenskap se ekonomie.”
AfriForum het intussen ook ’n onafhanklike en geakkrediteerde laboratorium opdrag gegee om omvattende watertoetse te onderneem en onder meer gerugte van die storting van ongesuiwerde rioolwater in die Veldwagters- en Eersterivier te ondersoek. Die resultate van die verslag sal na verwagting aanstaande jaar vrygestel word.