|

AfriForum rig nóg ligte op om Middelburg-tehuis te beskerm

AfriForum het verlede maand voortgegaan om tehuise in Middelburg teen misdadigers te beveilig deur nóg sonkragveiligheidsligte op te rig. Die Middelburg-tak het dié keer veiligheidsligte by die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie (SAVF) Vergeet-My-Nie Behuising en Aftreeoord opgerig. Altesaam sewe veiligheidsligte is aangebring en strategies geposisioneer om spesifieke punte in die aftreeoord te belig. Die tak het reeds vroeër vanjaar 13 sonkragveiligheidsligte by die aftreeoord opgerig.

Die projek is van stapel gestuur nadat boosdoeners by verskeie geleenthede probeer het om ongesiens oor die heining van hierdie en ander aftreeoorde in die gebied te glip. Hoewel die inbrake in meeste gevalle onsuksesvol was, is dit nietemin ’n veiligheidsrisiko om onvoldoende beligting te hê. Die sonkragveiligheidsligte skyn net so helder soos elektriese ligte en maak dit moontlik vir die inwoners om veilig in die aand rond te beweeg.

“AfriForum se Middelburg-tak is daartoe verbind daartoe om die veiligheid van die gemeenskap te help verseker, daarom sal ons aanhou om die kwesbare mense in ons gemeenskap te beskerm,” sê Mark Salzwedel, voorsitter van AfriForum se Middelburg-tak.

Besoek www.wordlid.co.za om meer oor AfriForum se Middelburg-tak te wete te kom en hierdie tak te ondersteun.

Soortgelyke plasings