AfriForum plant bome by Laerskool Lydenburg
AfriForum het op 18 September 2019 twee spekboompies by Laerskool Lydenburg geplant as deel van dié burgerregteorganisasie se jaarlikse boomplantmaand. Dit is die eerste van ’n reeks boomplantaksies wat AfriForum se takke in Mpumalanga gedurende September aanpak.
Volgens Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Laeveld, beoog die organisasie om vanjaar landwyd meer as 3 000 bome te plant.
“Deur inheemse bome te plant, bewaar ons nie net ons omgewing en maak dit ’n mooier plek om in te bly nie, maar ons wys ook dat ons hoop vir die toekoms het. Bome is veel meer as bloot ’n belangrike deel van die ekostelsel of ’n noodsaaklike natuurlike hulpbron – bome is simbolies van lewe,” sê Bekker.
AfriForum fokus jaarliks op ’n boomspesie wat algemeen voorkom sowel as ’n skaars boomspesie. Die algemene boom vir 2019 is die maroela (Sclerocarya birrea), terwyl die skaars boom die appelblaar (Philenoptera violacea) is. AfriForum moedig sy lede egter aan om inheemse bome te plant wat in hul spesifieke omgewings aard.
“Boomplantmaand bied die perfekte geleentheid om ’n blywende verskil in ons gemeenskappe te maak. Bome het egter deurlopende sorg nodig om tot voordeel van almal te floreer – en die AfriForum-takke in die Laeveld onderneem om hierdie sorg te verskaf. Dit is simbolies daarvan dat ons hier is om te bly en hoop het vir die toekoms,” meen Bekker.
Die tak moedig die gemeenskap aan om by die projek betrokke te raak en deel te word van ’n groener toekoms. SMS jou naam na 45350 en sluit aan by AfriForum.