AfriForum plaas nadelige gevolge van regering se rassewette in kollig by VN
’n Afvaardiging van AfriForum is hierdie week in Genève, Switserland, om twee sittings van die Verenigde Nasies (VN) by te woon om internasionaal bewusmaking te doen oor verskeie plaaslike sake.
Die eerste hiervan is by die VN se Forum vir Sake en Menseregte waar AfriForum die kollig op die nadelige gevolge van die regering se rassefokus in wetgewing geplaas het. Hierdie forum bied ’n unieke platform vir ’n wye verskeidenheid belanghebbendes om tendense en uitdagings te bespreek wat die implementering en bevordering van die VN se Leidende Beginsels vir Sake en Menseregte aanbetref. Hierdie beginsels word beskou as dié gesaghebbende globale raamwerk vir state en ondernemings wat daarop gerig is om nadelige gevolge van sakeaktiwiteite op menseregte te voorkom. Die huidige sessie fokus op hoe die “slim mengsel van maatreëls”, met ander woorde die samewerking tussen nasionale en internasionale belanghebbendes, en vrywillige en verpligte maatreëls, hierdie raamwerk kan bevorder.
Luidens ’n verslag wat AfriForum saamgestel het, is daar sedert die ANC in 1994 aan bewind gekom het, meer as 100 rasgedrewe wette in die land ingestel.
Hierdie wette is meestal daarop gemik om verskillende vorme van regstellende aksie af te dwing. Hierdie wette het ook ’n groot impak op die privaat sektor en maatskappye moet aan dié wette gehoor gee of groot boetes kan teen hulle ingestel word. Ondernemings wat hoop om tenders en kontrakte van die regering los te slaan, word ook aan allerlei stipulasies blootgestel waarvan Swart Ekonomiese Bemagtiging (SEB)-tellings ’n groot rol speel. Die uiteinde van die saak is dat mense van ’n sekere rasgroep dikwels werk kry of bevorder word pleks van die meer geskikte kandidaat.
AfriForum het hierdie verslag ook by die VN ingedien. Alhoewel die grondwet spesifiek nierassigheid en gelykheid bevorder, het die getal en intensiteit van rassewette verder toegeneem. Die verslag beklemtoon voorts hoe wetgewing soos die Wet op Breedgebaseerde Swart Ekonomiese Bemagtiging (BGSEB) en die Wet op Gelyke Indiensneming slegs enkele mense bevoordeel. Verder is daar ook vasgestel dat daar ’n korrelasie tussen regstellende aksie vir openbare verkrygingsprosesse en korrupsie bestaan. Daarbenewens sluit maatreëls van dié aard minderheidsgemeenskappe van ekonomiese aktiwiteite uit, wat hulle volhoubare voortbestaan bedreig.
Volgens Alana Bailey, AfriForum se afgevaardigde na die forum se sitting, moet ’n ander aanslag gevolg word.
Sy meen daar moet ’n gebalanseerde verhouding tussen nasionale en internasionale belange, sowel as tussen die verpligte en vrywillige maatreëls ingestel word om nadelige impakte op menseregte as gevolg van sakeaktiwiteite te voorkom en die beskerming van menseregte te verseker. Hiermee saam moet ekonomiese groei steeds bevorder word.
“Maatskaplike ongelykheid in Suid-Afrika word dikwels beklemtoon, maar daar word nie genoeg aandag gegee aan die rol wat rasgefokusde wetgewing speel om hierdie kommerwekkende toedrag van sake te handhaaf nie. Deur die kwessie op internasionale platforms, soos die VN se Forum vir Sake en Menseregte te bespreek, hoop ons om bewustheid in hierdie verband te verhoog en om vir ’n hersiening van die wetlike maatreëls te beding. Deur byvoorbeeld sonsondergangklousules in regstellendeaksiewetgewing in te sluit en aansporings te bied vir die bemagtiging van alle gemeenskappe in die land, in plaas van strafmaatreëls, kan sakeaktiwiteite floreer, terwyl menseregte ook bevorder word,” sê Bailey.
Van die internasionale sprekers by die forum het beklemtoon dat menseregte deel moet vorm van die meting vir sakesukses en dat die verskillende streke van die wêreld nouer moet saamwerk om uitdagings te oorkom.
Bailey gaan volgende die VN se Forum vir Minderheidsaangeleenthede, ook in Genève, bywoon om steun te werf teen die vernietigende gevolge wat die huidige toelatings- en taalbeleidbepalings van die Wysigingswet op Basiese Onderwyswette 32 van 2024 (Bela-wet) inhou. Hierdie stap is deel van AfriForum se internasionale veldtog om druk teen die implementering van hierdie wet se twee omstrede artikels te werf.