AfriForum plaas Mangaung-metro op terme oor wekelange waterkrisis
AfriForum se Bloemfontein-tak het die Mangaung Metropolitaanse Munisipaliteit op terme geplaas oor die voortslepende waterkrisis wat die inwoners van Bloemfontein al vir drie weke lank sonder voldoende watertoevoer laat. AfriForum het hiermee saam ’n klagte oor die krisis by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) ingedien.
Verskeie woonbuurte en informele nedersettings ervaar steeds gebrekkige watertoevoer met min tot geen antwoorde van die munisipaliteit oor ’n werkbare aksieplan nie. AfriForum eis nou dat die sporadiese watertoevoer onmiddellik herstel word en dat die munisipaliteit daadwerklik optree om volhoubare oplossings te implementeer. Indien die munisipaliteit nie aan hierdie eise gehoor gee nie, sal AfriForum verdere regstappe oorweeg.
“Die Mangaung Metropolitaanse Munisipaliteit moet eienaarskap neem van hierdie probleme en nie net korttermynoplossings soek nie. Daar moet gefokus word op gereelde onderhoud en infrastruktuuropgraderings wat probleme op die langtermyn aansienlik sal verminder,” sê Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Rosestad.
Die huidige situasie het ’n ernstige impak op inwoners se lewensgehalte, aangesien basiese higiëne en toegang tot drinkwater in die gedrang kom. AfriForum dring aan dat die munisipaliteit sy grondwetlike verpligtinge teenoor inwoners nakom deur spoedig op te tree om hierdie humanitêre krisis die hoof te bied.
AfriForum sal voortgaan om druk op die munisipaliteit toe te pas en alle beskikbare regsmiddele aan te wend om te verseker dat die regte van Bloemfontein se inwoners beskerm word.
AfriForum nooi die gemeenskap uit om aktief betrokke te raak en vandag nog by AfriForum aan te sluit om dié burgerregteorganisasie se pogings om ’n verskil te maak, te ondersteun. Besoek www.wordlid.co.za om deel te word van die gemeenskap wat omgee.