| |

AfriForum open nuwe opleidingsentrum en beheerkamer in Roodepoort, takel veiligheid aan Wesrand

Die burgerregteorganisasie AfriForum het Vrydag (2 Augustus) ’n nuwe taksentrum in Roodepoort geopen wat onder meer as opleidingsentrum en veiligheidsbeheerkamer sal dien en fokus op die beskerming van inwoners aan die Wesrand sal plaas. Dié stap kom te midde van ’n kommerwekkende toename in misdaad aan die Wesrand, wat volgens AfriForum, daadwerklike optrede van owerhede én die burgerlike gemeenskap noodsaak.

Volgens misdaadstatistiek het huisrowe in Roodepoort, Krugersdorp, Randfontein, Westonaria en Fochville binne slegs een jaar met 90 voorvalle toegeneem vanaf 392 gevalle in 2021/2022 tot 482 in 2022/2023. Dit kom neer op ’n toename van nagenoeg 23% binne net een jaar.

“Hierdie statistiek toon duidelik dat misdaad aan die Wesrand indring tot op die plek waar inwoners die veiligste moet voel, naamlik in hul huise. Die toename in huisrowe is ernstige rede tot kommer en toon dat die huidige benadering tot misdaadvoorkoming nie voldoende of suksesvol is nie,” verduidelik Stephanus Blignault, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Wesrand en Vaaldriehoek.

Volgens Blignaut het AfriForum se Roodepoort-tak – juis vanweë die ernstige veiligheidsprobleme wat die gebied teister – inisiatief geneem om ’n taksentrum op die been te bring om veral veiligheidsinisiatiewe beter te koördineer deur middel van die Wesrand-veiligheidsnetwerk, oftewel steunkring. Die sentrum is geleë in die Beacon Road-kantoorpark, in Florida-Noord, Roodepoort.

AfriForum het vroeër vanjaar sy eerste steunkring in die Suid-Kaap op die been gebring. Sedertdien is soortgelyke netwerke ook elders in die land gevestig. Blignaut benadruk dat steunkringe daarop gemik is om ’n nouer samewerking tussen AfriForum-takke in dié veiligheidskring te bewerkstellig wat sal help toesien dat veiligheidskwessies oor ’n breër gebied getakel kan word.

“Steunkringe hou verskeie voordele in,” verduidelik Blignaut. “Deur middel van ’n doeltreffende steunkring kan kriminele aktiwiteite byvoorbeeld in ’n groter gebied bekamp word. So ook kan inligting, soos dié wat met behulp van veiligheidskameras langs paaie ingesamel word, wyer gedeel word en die beweging van verdagtes tussen gebiede kan veel beter gemonitor word. Daarbenewens kan misdaadtendense ook meer akkuraat geïdentifiseer en ontleed word om sodoende kwesbaarheid te bepaal en beter risiko-ontledings te kan doen.”

’n Totaal van vyf AfriForum-buurtwagte en ses takke aan die Wesrand word nou deur hierdie steunkring saamgesnoer.

Die Roodepoort-taksentrum sal AfriForum-lede en die gemeenskap van Johannesburg-Noord, Roodepoort, Krugersdorp, Randfontein, Westonaria en Fochville bedien en binnekort ook sodanig ingerig word om as lededienssentrum vir AfriForum-lede ingespan te word. Die sentrum sal ook as sentrale projeksentrum vir groot AfriForum-projekte in die streek gebruik word.

Volgens Werner Britz, takvoorsitter vir AfriForum se Roodepoort-tak, is die opening van AfriForum se Roodepoort-taksentrum ’n droom wat verwesenlik is. “Die sentrum is ’n groot aanwins vir AfriForum se lede in dié gebied en sal ’n kritieke rol in AfriForum se veiligheidstrategie vir die Wesrand speel. Inwoners smag daarna om weer veilig te voel in hul eie huise, in hul strate, parke en buurte, en dit is waarna ons nou streef,” benadruk Britz.

Raak betrokke

Raak vandag nog betrokke by die AfriForum Roodepoort-sentrum. Kontak roodepoort@afriforumtak.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings