| |

AfriForum neem sterk standpunt in oor kragtariefverhoging in Limpopo

AfriForum het die afgelope paar weke landwyd deelgeneem aan die openbare raadplegingsproses oor Eskom se voorgestelde kragtariefverhoging van 36,15%. Verlede week het die burgerregteorganisasie sy geskrewe kommentaar oor dié tariefverhoging tydens Limpopo se raadplegingsessie ingedien. AfriForum het in sy formele kommentaar, wat in Polokwane voorgelê is, dié buitensporige tariefverhoging teengestaan.

Die burgerregteorganisasie het daarop gewys dat daar nie van kragverbruikers verwag kan word om pa te staan vir die jarelange wanbestuur van Eskom nie. Eskom het sy voorgestelde tariefverhoging vir die volgende drie jaar aan die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) voorgelê. Die publiek het tot gister (Woensdag) gehad om kommentaar daarop te lewer.

AfriForum het tydens die openbare raadplegingsproses die ernstige ekonomiese en maatskaplike gevolge van Eskom se voorgestelde tariefverhoging uitgelig en beklemtoon hoe die beplande kostes kwesbare gemeenskappe, veral lae inkomste-huishoudings, wat reeds ’n groot deel van hul inkomste aan elektrisiteit bestee, buitensporig sal belas. Boonop is stygende elektrisiteitskoste die dryfveer van koste-inflasie, wat die prys van noodsaaklikhede verhoog en armoede en ongelykheid vererger.

“Lewenskostes in Limpopo het reeds die afgelope paar jaar eksponensieel verhoog, daarom kan inwoners doodeenvoudig nie die voorgestelde tariefverhoging bekostig nie. Burgers kan nie daarmee gelas word om die situasie by Eskom te probeer beredder ná die growwe wanbestuur van die kragvoorsiener oor die jare heen nie,” sê Hendrik Kotzé, AfriForum se distrikskoördineerder vir Limpopo.

AfriForum se bestuurder van Plaaslikeregeringsake, Morné Mostert, het ook tydens die openbare raadplegingsessie in Gauteng gister sy kommer uitgespreek oor Eskom se ondoeltreffendheid en ernstige bestuursmislukkings. “Nersa moenie net strenger nakoming van regulatoriese raamwerke afdwing nie, maar moet self ook omsigtigheidstoetse by Eskom doen, wat sal verseker dat wettige uitgawes slegs by die tariefberekeninge ingesluit word.”

AfriForum sal die uitkoms van die openbare raadplegingsproses noukeurig moniteer en optree indien daar onbillike gebruike en wanpraktyke opgemerk word.

Soortgelyke plasings